Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
Vermiste stemme: 'Cyril omring deur hiënas'
David Mahlobo, Ace Magashule en pres. Jacob Zuma Maandagaand in die Nasrec-eksposentrum by Johannesburg. Foto: Deaan Vivier

Die ANC was teen Dinsdagaand laat nog tjoepstil oor bewerings dat daar dalk ongerymdhede was met die tel van stemme vir die posi van sekretaris-generaal (SG).

Ace Magashule, Vrystaatse ANC-leier en premier, is Maandag as SG aangewys.

Dinsdag is wyd berig dat sowat 68 stemme “vermis” is in die naelskraapse stryd tussen Magashule en Senzo Mchunu, voormalige ANC-leier in KwaZulu-Natal.

Magashule het volgens Maandag se uitslag met ’n skamele 24 stemme gewen (2 360 stemme teenoor Mchunu se 2 336).

Die ANC se bestuurskomitee by die nasionale konferensie in die Nasrec Ekspo-sentrum in Johannesburg, het Dinsdag byna heeldag vergader oor die “vermiste stemme”-kwessie, maar het teen Dinsdagaand laat nog nie ’n woord daaroor met wagtende joernaliste gedeel nie.

Teen Dinsdagaand laat was daar selfs sprake van hofgedinge oor die pos

van sekretaris-generaal.

NUK-stembriewe glo herdruk

Die dispuut het byna Dinsdag se verrigtinge – waar vir die 80 lede van die ANC se nasionale uitvoerende komitee gestem moes word – ontwrig. Stemme vir die NUK-lede het Dinsdagmiddag laat begin. Die uitslag daarvan sal na alle verwagting Woensdag aangekondig word. News24 het Dinsdagaand laat berig dat die stembriewe vir die NUK oorgedruk moes word en stemmery daarvoor weer van voor af moes begin.

Theo Venter, politieke ontleder, sê hy dink die bespiegeling dat die stembriewe vir die NUK herdruk is, het alles te doen met die onderlinge gesprek oor die topses.

“Daar is baie grondige kwessies oor hoe geldig die verkiesing van die sekretaris-generaal was – dit kan wees dat dit die rede vir die aanpassing is.”

Daar is baie grondige kwessies oor hoe geldig die verkiesing van die sekretaris-generaal was – dit kan wees dat dit die rede vir die aanpassing is.

Kommissies waar belangrike beleidsbesluite geneem moes word, het ook weens die dispuut eers Dinsdagmiddag laat begin en die uitslag daarvan sal Woensdag bekend gemaak word.

Afgevaardigdes is egter deur die loop van die dag gesien waar hulle buite rondgeloop en -gesit het, terwyl ander die stalletjies waar ANC-klere en aandenkings in die pad oorkant die eksposentrum verkoop word, besoek en openlik inkopies gedoen het.

Woensdag sal adj.pres. Cyril Ramaphosa, wat Maandag as die ANC se nuwe president aangewys is, sy heel eerste toespraak as ANC-president doen.

Hertel of herstem vir sekretaris-generaal?

Terwyl Mchunu se ondersteuners glo aandring op die hertel van die SG-stemme, meen sy teenstanders enige twis moet op ’n nuwe verkiesing uitloop.

Dié standpunt word ondersteun deur Supra Mahumapelo, ANC-voorsitter in Noordwes, wat meen as daar aan die uitslag gekrap word, moet die hele topses herverkies word.

Mahumapelo is saam met Magashule en David Mabuza, ANC-voorsitter in Mpumalanga en nuutverkose ANC adjunkpresident, deel van die sogenaamde premierliga.

Hulle word as ondersteuners van dr. Nkosazana Dlamini-Zuma gesien.

Ramaphosa het gewen, maar sy faksie het verloor en hy word nou deur ’n trop hiënas omring.

News24 het ook berig dat Ramaphosa se ondersteuners erg verdeeld is oor die Mchunu-dispuut.

Mchunu se ondersteuners het glo ’n dispuut verklaar en daarop aangedring dat dié stemme “wat in kwarantyn geplaas was” by die finale getal gevoeg word.

Ndileka Mandela, oudste kleindogter van oudpres. Nelson Mandela, het Dinsdag op haar Facebook-rekening beweer daar was ’n knoeiery met die SG-stemtellery. Sy beweer ’n senior lid van die ANC het met opset 68 stemme geïgnoreer wat eenkant in ’n koevert gehou is en bygevoeg sou word nadat die ander stemme getel is. Sy het Dinsdag op Facebook gesê dié 68 stemme was van afgevaardigdes wat nie op die kieserslys verskyn het nie, maar steeds stemgeregtig was.

Lees ook:

Nog ’n bron het Dinsdagaand beweer dat ’n verkiesingsbeampte erken het dat hy of sy na bewering R200 000 deur ’n hoë ANC-beampte betaal is en dat ’n dringende hofaansoek daaroor ingedien is, terwyl die ander kant ’n hofaansoek ingedien het oor die geloofwaardigheid van die hele verkiesingsproses.

Eerw. Frank Chikane, ’n ANC-veteraan, het aan die rand van die konferensie gesê die stuurkomitee wat die “vermiste stemme”-kwessie ondersoek, moet deur die ANC se verkiesingsreëls gelei word.

As dit geldig was, dan tel jy dit.

Volgens hom is die 68 stemme gemaak deur afgevaardigdes wat nie op die kieserslys verskyn het nie, maar wat stemgeregtig was.

“As dit geldig was, dan tel jy dit. Ek het voorheen ’n verkiesing bestuur en as jy daardie stemme in kwarantyn geplaas het, raak dit nie die res van die stemme nie, tensy daar korrupsie was wat die hele proses geraak het.”

Oor Mahumapelo se uitlating het Chikane gesê: “Sommige kamerade maak uitlatings vir hul eie belang en daarom verloor hulle altyd in die howe.”

Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder, het gesê die dispuut oor die stemtellery is ’n rede waarom die konferensie Dinsdag tot stilstand gedwing is.

“Ramaphosa het gewen, maar sy faksie het verloor en hy word nou deur ’n trop hiënas omring.

“Daar sou oor iets anders gestry word, as dit nie oor die vermiste stemme was nie omdat albei faksies na die konferensies gekom het om te wen.”

Meer oor:  Ace Magashule  |  Senzo Mchunu  |  Johannesburg  |  Nuk  |  Anc-Konferensie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.