Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
ANC-konferensie
VS-kongresgangers sing ‘Happy for Nkosazana’

“Ons moes alles eers volgens die boek reg gedoen het,” het Ace Magashule, die Vrystaatse premier, Sondagaand net voor 18:00 in die Woodlands Lodge in Parys gesê waar sy veelbesproke Vrystaatse provinsiale kongres eindelik begin het ná ’n daglange gewag vir die afgevaardigdes om op te daag en geregistreer te word.

Die chaos is deur opponente in die ANC as ’n Boswell-sirkus beskryf, dié dat hulle besluit het om eerder weg te bly.

Van Thabo Manyoni, ondervoorsitter van die Vrystaatse ANC wat Magashule om Vrystaatse leierskap van die ANC sou uitdaag, was daar geen teken nie. By navraag het hy telefonies gesê dat hy nie die verkiesingskonferensie gaan bywoon nie. Manyoni ondersteun adj.pres. Cyril Ramaphosa in die nasionale leierskapstryd.

Ander ontevrede takke het ook weggebly. Dit is veral die 29 takke wat onlangs deel van die Vrystaatse hooggeregshofsaak was wie se afgevaardigdes nie opgedaag het nie.

Hulle beplan om hulle in volgende week weer tot die hooggeregshof te wend omdat hulle steeds nie tevrede is met die prosesse wat gevolg is om afgevaardigdes na die konferensie te stuur nie. Die Ramaphosa-ondersteuners wat die konferensie boikot, voer aan daar was manipulasie, omkopery en bedrog, en dat baie ongerymdhede ook plaasgevind het toe die takke hul takvergaderings moes oorhou soos die hof bepaal het.

Afgevaardigdes wat wel opgedaag het en die media het Sondag heeldag onder die koeltebome en in warm motors gewag. Daar was duidelik onsekerheid oor wie sou opdaag en wie nie. Blink motors met Vrystaatse LUR’e en ander hooggeplaastes het deurentyd ’n draai by die Forum-gebou in die Paryse middestad gemaak om angstig te kyk wie opdaag en wie nie en of daar aan die vereiste 90%- takverteenwoordiging voldoen gaan word soos wat die ANC se grondwet bepaal.

Magashule het laat Sondagmiddag self die akkreditasiekaarte uitgedeel en die proses van registrasie beheer.

Die media is nie in die gebou toegelaat nie en sou iemand waag om Magashule te probeer afneem, is dié vriendelik na die deur vergesel. Van die takke in die Xhariep-distrik, Suid-Vrystaat, het ook nie opgedaag nie. Magashule- en Zuma-ondersteuners van Qwaqwa het in ’n stadium onder die bome aan die slaap geraak.

Spirit Monyobo, kommunikasiekoördineerder van die ontevredenes, het uit Welkom laat weet hy woon dit ook nie by nie. “Goeie hemel, ons hoor die mense wag heeldag onder die bome. Ek is so jammer vir die ongerief. Wanneer Ramaphosa aan bewind kom, sal dié dinge nie gebeur nie.”

Goeie hemel, ons hoor die mense wag heeldag onder die bome. Ek is so jammer vir die ongerief. Wanneer Ramaphosa aan bewind kom, sal dié dinge nie gebeur nie.

Monyobo sê as die hofaansoek Woensdag in die hooggeregshof slaag, gaan alle besluite wat op die naweek se verkiesingskonferensie geneem word, ongeldig verklaar word.

“Ons gaan ook die provinsiale uitvoerende komitee wat die ANC op sy konferensie verkies ongeldig laat verklaar. Dit sal beteken dat ’n tussentydse komitee aangestel sal moet word vir die nasionale verkiesingskonferensie wat van 16 tot 20 Desember in Johannesburg gehou word.”

Monyobo sê groot ongelukkigheid bestaan ook oor die 84 takke in die Vrystaatse ANC wat dispute ingedien het, maar wat nooit geantwoord is nie.

Hy sê takke waarin ontevredenheid voorkom, is die 11 in Xhariep, 25 in Mangaung, 25 in Thabo Mofutsanyana, 9 in Fezile Dabi en 14 in Lejweleputswa.

Die afgevaardigdes wat wel by die konferensie opgedaag het, het sommer gou gewys wie hulle ondersteun toe hulle in die saal “We are happy for Nkosazana Zuma” begin dreunsing het. Die konferensie sou moontlik, soos die een in Oos-Londen, deurnag voortgaan.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.