Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
‘Advokaat’ bly agter tralies

’n “ADVOKAAT” van Bloemfontein sit agter tralies nadat dit nou blyk dat sy graadsertifikaat van die Universiteit van die Vrystaat glo vervals is en dat hy ook nie tot die Vrystaatse balie toegelaat is nie.

Volksblad verneem hy was in 2003 ’n ingeskrewe student aan dié universiteit, maar het nie ’n enkele vak geslaag nie.

In 2012 is hy met ’n vermoedelik vervalste graadsertifikaat in die Vrystaatse hooggeregshof as advokaat toegelaat.

Ntate Manoel Mabesa (42) se verhoor is gister in die Bloemfonteinse landdroshof tot Maandag uitgestel, wanneer hy formeel om borgtog aansoek sal doen.

Gister voor landdros Thobela Tshozi wou hy sommer daar en dan aansoek om borgtog doen, nadat hy die vorige nag in die selle deurgebring het.

Hy sal waarskynlik van bedrog, vervalsing en regsverydeling aangekla word.

Volksblad verneem sy verskyningsbevoegdheid het in Desember verlede jaar onder die aandag gekom toe hy in ’n verhoor namens vier mans verskyn het, wat na bewering in besit van vervalste geld was.

Hy het glo voorgegee dat hy ’n meestersgraad in die regte het en ook met sy doktorale studie besig is.

Op dokumente het hy ook voorgegee dat hy ’n lid van die Vrystaatse balie is.

Hy het glo ook gesê dat hy in teologie studeer het en ’n ingeseënde Anglikaanse predikant is.

Adv. Thembile Zumane kla aan. Ao. R.K. Makoena van die teenkorrupsie-eenheid in die Vrystaat is die ondersoekbeampte.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.