Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Afrikaans kan waai as landstaal as SAKP sy sin kry
Taal kan 'n belangrike instrument wees om 'n nasie of 'n klas te fragmenteer of te bou.

As dit van die Suid-Afrikaanse Kommuniste Party (SAKP) afhang, kan Afrikaans sy status as amptelike landstaal verloor.

Daarteenoor voer die party aan dat Engels, saam met twee nog ontwikkelde Afrika-tale, Nguni en Sotho, die enigste amptelike landstale moet wees.

David Masondo, SAKP-lid, argumenteer só in 'n besprekingsdokument getiteld: Post-Apartheid tribalism, language and the national question, wat tans in die party se kwartaalikse publikasie, die African Communist, gepubliseer is.

Die besprekingsdokument is deel van verskeie wat volgende week by die SAKP se derde spesiale nasionale kongres in Soweto bespreek sal word.

Die party het die dokumente uitgereik kort voor sy deelname aan die alliansieberaad wat tans in Pretoria gehou word waar hy saam met die ANC, Cosatu en Sanco kwessies van belang sal bespreek.

Masondo argumenteer in die dokument dat die ANC-alliansie se wekroep vir “meer radikale, tweede fase” van die nasionale demokratiese revolusie 'n goeie tyd bied om nie net te dink oor radikale transformasie nie, maar ook oor die kwessie van nasiebou.

Hy voer aan dat daar in die bespreking van die inhoud van die tweede fase grootliks gewag oor die politieke prestasies sedert 1994 gemaak word met die fokus op radikale transformasie.

“Terwyl dit belangrik is om ook met die materiële toestande (soos grondhervorming, toegang tot basiese dienste, ens.) te handel wat 'n bevorderlike omgewing vir stamgebondheid daarstel, is dit ook belangrik om aandag te skenk aan kwessies soos taal as deel van nasiebou wat beter omstandighede vir klasbewustheid skep.

“Taal kan 'n belangrike instrument wees om 'n nasie of 'n klas te fragmenteer of te bou. Taal speel 'n sleutelrol om formasie, kollektiewe aksie en klasbewustheid te identifiseer.

“Nasiebou moet die aanvaarding van twee of drie amptelike tale insluit, wat Engels en een of twee amptelike Afrikatale insluit wat deur alle Suid-Afrikaners gepraat moet word.

“Die argument vir die aanvaardiging van hierdie amptelike tale moet verduidelik word sodat dit nie misverstaan word nie.”

Masondo argumenteer dat hy nie sê dat die nasionale kwessie opgelos sal word deur die aanvaarding van die voorgestelde tale nie óf dat hy vra dat etniese tale verban word nie.

“Ek stel eenvoudig net voor dat deur die twee of drie tale as ons amptelike tale te aanvaar, kan die nodige (maar nie voldoende) toestande vir 'n algemene nasionale identiteit en nasiebou geskep word.

“Ander etniese tale sal aanhou bestaan as nasionale tale, maar nie amptelike tale nie. In die konteks van my argument sal Afrikaans 'n nasionale taal wees, maar nie 'n amptelike taal nie. Die verskil tussen 'n nasionale en amptelike taal is dat laasgenoemde formeel erken en in regeringskommunikasie en in die kommersiële wêreld is en die dominante taal in die politieke ekonomie is.

“Eersgenoemde word erken, maar word nie as 'n regerings- of handelstaal gebruik nie. So byvoorbeeld is Khilobedu, Khoi en Nam tans nasionale tale, maar nie amptelike tale nie.”

Masondo voer aan dat die vermindering van Suid-Afrika se amptelike tale tot twee of drie gebaseer moet wees op die ANC se revolusionêre nasionalisme.

Hy stel ook voor dat twee Afrikatale, uit die Nguni- en Sotho-groepe, ontwikkel moet word om etniese identiteite te oorkom.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.