Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Akademie vereer Christo Viljoen
Prof. Christo Viljoen Foto: verskaf

KAAPSTAD. – Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het vanjaar ’n oudprofessor van die Universiteit Stellenbosch aangewys as die ontvanger van die D.F. du Toit Malherbe-prys vir genealogiese navorsing.

Prof. Christo (H.C.) Viljoen is as die ontvanger van dié prys aangewys vir sy werk aan die Viljoen-familieregister, wat in vier dele verskyn het.

Luidens ’n verklaring wat deur die Hugenote Vennootskap uitgereik is, is die register ’n voortreflike publikasie en een van die mees omvattende genealogieë in Suid-Afrika.

“Hy word geprys nie net vir hierdie monumentale werk nie, maar ook vir sy beduidende bydrae tot die erfenis van die Hugenote,” lui die verklaring onder meer.

Die Genealogiese Genootskap van Suid-Afrika het onlangs aangekondig dat die Viljoen-familieregister ook aangewys is as medewenner vir uitstaande publikasie van die jaar 2013-’14.

Die Viljoen-familieregister van vier volumes is gepubliseer deur die Hugenote Vereniging van Suid-Afrika as deel van sy genealogiereeks en behels genealogiese navorsing oor ’n tydperk van 40 jaar.

Viljoen was tot onlangs die voorsitter van die Hugenote Vereniging van Suid-Afrika en ondervoorsitter van die Genealogiese Instituut van Suid-Afrika.

In 2000 het Viljoen die erepenning van die fakulteit natuurwetenskap en tegniek van Suid-Afrika van die Akademie ontvang.

Hierdie erepenning word toegeken vir prestasies en bydraes ten opsigte van die bevordering en ontwikkeling van die besondere vakgebied en word net in besonderse gevalle toegeken.

Viljoen is vereer vir sy bydraes op die gebied van die elektroniese ingenieurswese, as die grondlegger van Tegnopark in Stellenbosch en vir die bevordering van nywerheids- en ingenieurswese-ontwerp.

Luidens die verklaring is dit sover bekend die eerste keer dat dieselfde persoon deur sowel die fakulteit natuurwetenskap en tegniek as die fakulteit geesteswe-tenskappe van die Suid-Afrikaan-se Akademie vir Wetenskap en Kuns vereer word.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.