Altesaam 1 117 van die 17 940 lyke in Gauteng se tien lykshuise is die afgelope boekjaar nie uitgeken nie.
Só lui die syfers van April 2018 tot Maart 2019 wat die DA in ’n verklaring uiteengesit het.
Jack Bloom, DA-woordvoerder oor gesondheid in Gauteng, sê hy het dié inligting gekry uit die LUR van gesondheid se geskrewe antwoord op sy vrae voor die Gautengse wetgewer.
Bandile Masuku, LUR, het glo aan Bloom geskryf ’n verdere 18 lyke is uitgeken, maar nog nie opgeëis nie.
Luidens Bloom se verklaring lê die grootste getal ongeïdentifiseerde lyke (360) in die Johannesburg-lykshuis. Germiston is tweede met 115 ongeïdentifiseerde lyke, met Roodepoort (107), Diepkloof (106) en Springs (105).
In GaRankuwa lê 73 onbekende lyke, in Pretoria 71, in Heidelberg 18 en in Bronkhorstspruit en Carletonville onderskeidelik 16 en 10.
“Die meeste sterftes is weens misdaad en padongelukke. Dis tragies dat baie families nie weet wat met hul geliefdes gebeur het nie, omdat hulle anoniem begrawe is nadat hulle ’n gewelddadige dood gesterf het,” sê Bloom.
Philani Mhlungu, woordvoerder van die plaaslike departement van gesondheid, sê die departement neem die probleem ernstig op.
“Ons werk saam met belanghebbendes soos die polisie om die oorledenes te identifiseer en families op te spoor. Die departement maak ook van plaaslike en hoofstroommedia (radiostasies en koerante) gebruik om aankondigings te doen.
“Die meeste van die oorledenes het nie identifiseerbare besonderhede nie en in sommige gevalle is die woonadresse nie korrek nie,” sê Mhlungu.