Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
1 jaar later: Inperking bring wanhoop, maar ook geluk

Dis nou presies ’n jaar sedert Suid-Afrikaners met ’n nuwe realiteit kennis gemaak het: 'n nasionale ramptoestand om die verspreiding van die koronavirus te keer.

Die inperkingsmaatreëls op vlak 5 was van 27 Maart 2020 vir 35 dae van krag.

Die dae voor die inperking sal onthou word vir paniekaankope van dinge soos toiletpapier en ander kruideniersware.

Skielik moes almal maskers in die openbaar dra. Selfs pres. Cyril Ramaphosa het 'n slag gesukkel toe hy wou demonstreer hoe om ’n masker behoorlik te dra.

'n Jaar later het Netwerk24 lesers op Facebook gevra hoe die inperking hul lewe geraak het.

Dit was vir baie ’n tydperk van angs, pyn, verlies en wanhoop, maar vir ander het dit voordele ingehou.

Colette Combrink en Janneman Mostert, haar verloofde wat sy tydens die staat van inperking ontmoet het.

Nadine Kamule van Kaapstad: “Ek het my werk verloor, my ma is oorlede, toe verloor my man ook sy werk. Ek versorg tans my siek ouma en ons lewe op genade. Ek het ’n werk broodnodig.”

Drusilla Kilian van Springbok in die Noord-Kaap: “My lewe is ’n ramp. My man het sy werk verloor en ’n nuwe, tydelike werk dek net die huis se huur en my dogtertjie se skoolgeld.

“Daar is geen geld vir kos of klere vir haar wat seisoenaal benodig word nie. Nou gaan dit oor oorlewing.”

Helga Darlew Slabbert van Vereeniging, Gauteng se man was so hittete duisende kilometer van sy vrou en kinders gestrand. “Ons het ons huis en klein onderneming verkoop om ’n nuwe lewe in Nieu-Seeland te begin. Ons het net gewag vir my man se visum.

“Hy sou Maart 2020 oorsee gegaan het en ons sou in Mei volg. Toe gebeur die inperking en Covid-19, en net so verander als.

“Maar, dit het ook ten goede vir ons uitgewerk, anders het my man alleen daardie kant van die water gesit en ek en ons kinders dié kant. Als het ’n tyd en plek. Ons is by mekaar, gesond en dankbaar. Met God se genade kan ons enigiets oorwin.”

Colette Combrink van Carolina, Mpumalanga het verskeie keer haar werk verloor en dan weer ander geleenthede gekry, haar toekomstige man ontmoet, verloof geraak en twee keer getrek “en dis nou nog die begin”.

“Ek het vroeg in 2020 Kaap toe getrek vir werk en hom hier ontmoet. Ek het in September verlede jaar uit die stad getrek en toe weer Blouberg toe aan die begin van hierdie jaar.

“My verloofde, Janneman Mostert, het vroeg in Maart 2021 Malawi toe getrek vir werk en ek trek daarheen in September nadat ons getrou het (indien alle regulasies natuurlik met ons saamwerk).

“Ek het tussen Julie, toe ek my werk verloor het, en Januarie vanjaar as ’n vryskut gewerk maar het darem nou ’n ongelooflike lekker pos by ’n bemarkingsagentskap.”

Tania Theunissen van Stilfontein in Noordwes het ook haar werk verloor. “Ek het in ’n kluisenaar verander. Ek gaan deesdae na die supermark die naaste aan my huis en bring ook nou die meeste van my tyd binnenshuis deur. Maar ek kuier steeds by familie.”

Linda Coetzee van Bruggen van Bellville beskou dit as ’n seën om van die huis af te kan werk. “Ek slaap meer, want ek hoef nie meer die spitsverkeer vroegoggend aan te durf nie, so my stresvlakke is laer, ek spaar petrol en is meer produktief in my werk.

“Ek is by die huis as my kinders uit die skool kom, so ek kry regtig terugvoering oor hul dag wanneer hulle tuiskom, nie net ‘fine’ aan die einde van my werkdag nie.

“Ek voel baie meer verbind met my gesin. Ek bly uit die winkels uit so ek spandeer nie geld op onnodighede nie. Ek sukkel met ’n masker, want ná ’n uur begin ek sweet, hiperventileer en ek het hoofpyn vir die res van die dag, so ek kuier nie in die winkels as ek kruideniersware gaan koop nie.

“Buiten die vrees vir die virus en (sommige) tye sonder ’n glasie wyn was my ervaring nie sleg nie.”

Brian Kritzinger van Rustenburg, Noordwes mis vlak 4 van die inperking. “Ek het ’n splinternuwe kar, het uiteindelik ’n swembad gekry, ’n kas vol kruideniersware en ’n klomp toiletpapier. Mense het ons uitgelos.

“Bokse avokado’s en groente van boere gekoop wat dit afgelewer het teen ’n fraksie van die normale prys. Ek het kookkos bestel by mense wat dit aflewer en dit was lekkerder was as gemorskos.

“Wat ook al jy wou hê, mense was gewillig om dienste te lewer vir bietjies geld. Ek kon laat slaap. Ek is jammer om dit te sê, maar ek verlang na vlak 4.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Koroanavirus  |  Jaar  |  Lesers  |  Ramptoestand
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.