Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
1 polisielid dood, 12 beseer in ongeluk op N8

’n Polisiebeampte is dood en 12 ander mense is beseer in ’n botsing Saterdag tussen ’n voertuig van ’n begrafnisonderneming en polisievangwa op die N8-hoofweg buite Bloemfontein.

Die wrakke van die polisievangwa en die begrafnisonderneming se voertuig staan op die ongelukstoneel langs die N8-hoofweg buite Bloemfontein terwyl paramedici die beseerdes behandel. ’n Polisiebeampte van Qwaqwa is in die ongeluk dood. Foto: Verskaf

Die Toyota Fortuner van die Diepsloot-begrafnisonderneming in Johannesburg, met tien insittendes, het ’n waentjie met ’n kis gesleep toe die ongeluk omstreeks 13:30 sowat 85 km van Bloemfontein gebeur het.

Tinos Manazuzu, sekretaris by Diepsloot-begrafnisse, sê die voertuig was van Johannesburg na Lesotho onderweg om ’n lyk na ’n begrafnis te neem.

Volgens hom het hul personeel slegs geringe beserings opgedoen en het hulle ’n plaaslike begrafnisonderneming gekry om die lyk verder na Lesotho te vervoer omdat hul voertuig erg beskadig is.

Sers. Martin Xuma, polisiewoordvoerder, sê die 66-jarige polisiebeampte wat oorlede is en twee kollegas van die Makwane-polisiekantoor in Qwaqwa was op terug huis toe.

Die twee ander beamptes is in ’n stabiele toestand in die hospitaal.

Xuma kon nie die oorledene se naam bekend maak nie.

’n Paramedikus behandel een van die beseerdes na ’n botsing tussen ’n polisievangwa en ’n Toyota Fortuner van ’n begrafnisonderneming van Johannesburg. ’n Polisiebeampte het in die ongeluk gesterf. Foto: Verskaf
Paramedici en polisiebeamptes Saterdag op die toneel waar ’n Toyota Fortuner van ’n begrafnisonderneming in Soweto met ’n polisievangwa van Qwaqwa gebots het. Foto: Verskaf

Russel Meiring, woordvoerder van ER24, sê die polisiebeampte het verskeie ernstige beserings opgedoen en is op die toneel dood verklaar, sê Meiring.

Die 12 ander pasiënte is vir geringe beserings behandel voordat hulle na nabye hospitale vervoer is.

Xuma het motoriste gevra om veilig en waaksaam te wees wanneer hulle by die verkeer op hoofweë en kruisings aansluit.

Die oorsaak van die ongeluk is steeds onbekend en ’n klag van strafbare manslag word ondersoek.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.