’n Jong beampte van die Lentegeur-polisiekantoor is dood toe die motor waarin hy gery het Woensdag omstreeks 00:30 in die Ou Lansdowneweg in Philippi gerol het.

Die wrak van die motor.
Netwerk24
Konst. Luke van Heerden (22) is op die toneel dood en twee van sy kollegas is in die ongeluk beseer.
Konst. Zubair Cader (23) het ernstige beserings opgedoen nadat hy vermoedelik beheer oor die voertuig verloor en dit, luidens ’n polisieverklaring, gerol het.
Konst. Keylen van Wyk (24), wat agter in die wit Nissan Sentra gesit het, het snywonde aan sy gesig en lyf opgedoen.
Volgens hom is hulle weens die slag van die ongeluk uit die voertuig geslinger en Van Heerden is bo-oor ’n muur.
Hulle was nie aan diens toe die ongeluk gebeur het nie.
“Ek kan byna niks onthou nie. Ek weet ons was op pad huis toe. Al wat ek kan onthou, is dat ek buite die kar gelê het toe ek my oë oopmaak.”
Hy het gesien die motor lê op sy dak. Hy het lank stilgelê waarna hy opgestaan en langs Cader gaan lê het. Cader het glo gekrul van die pyn en kreungeluide gemaak.
“Ek het vir hom gesê om nie sy oë toe te maak nie. Hy het net die heeltyd geskree ‘dit pyn’,” sê van Wyk.
Die volgende oomblik het ’n veiligheidswag met sy hond daar aangekom. Hy het sy handradio gegryp en die polisie in Philippi ontbied.
Luidens die polisieverklaring was Cader bewusteloos met hul aankoms op die toneel en is Van Heerden op die toneel dood verklaar.

Die wit Nissan Sentra lê op sy dak.
Van Wyk sê sy hart is gebreek ná die dood van sy kollega.“Ons was saam op kollege en het dieselfde skof gewerk. Ons het ’n goeie verhouding gehad.”
Van Wyk sterk by sy huis in Ashton aan.
“Ek kan nie glo dat ek nog leef nie, veral as ek na die kar kyk waarin ons gery het.”
Lt.genl. Yolisa Matakata, Wes-Kaapse polisiekommissaris, het haar meegevoel met Van Heerden se familie en sy kollegas betuig en Cader en Van Wyk ’n spoedige herstel toegewens.
Brig. Novela Potelwa, provinsiale polisiewoordvoerder, sê ’n saak van strafbare manslag word ondersoek.
Die polisiebeamptes by die Lentegeur-polisiekantoor kry traumaberading.