Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
1 toilet vir 30 gesinne

Nadat sy op pad na die gemeenskaplike toilet by die Thokoza-hostelle aan die Oos-Rand haar been gebreek het, gebruik Zanele Langa (52) deesdae ’n rolstoel om rond te beweeg in die paar vertrekke waarin haar gesin van sewe woon.

Zanele Langa in haar rolstoel in een van die wooneenhede. Elizabeth Sejake

Maar die rolstoel kan nie by die deur uit nie, so wanneer sy nou toilet toe gaan, is dit treetjie vir moeisame treetjie met ’n loopraam.

Oral om Langa leef mense, hul honde, katte en hoenders in skokkend haglike toestande in dié hostelle in Kumalostraat.

Elke hostelgebou het verskeie wooneenhede. By blok K borrel riool by ’n mangat uit en loop in ’n konstante stroom voor die mense se deure verby.

Mervyn Cirota, die DA in Gauteng se woordvoerder oor menslike nedersettings, het by die hostelle aan Rapport gesê in een blok deel meer as 30 gesinne ’n enkele toilet.

’n Vrou is glo in ’n toilet verkrag.

Van die toilette kan nie gespoel word nie. Ander spoel aanhoudend. Van die toilette is los van die sementvloer.

By sentrale buitekrane waar vroue hul wasgoed in emmers was, skarrel groot rotte in die lang gras.

S’bonise Khali, DA-raadslid in Thokoza, sê Langa huil elke keer wanneer hy haar besoek, want sy wil weet wanneer sy ’n huis gaan kry.

Met Rapport se besoek vertel Langa weer in trane sy het al in 1997 by die staat geregistreer om ’n huis te kry.

Rioolwater borrel by ‘n mangat by die Thokoza-hostelle uit. Foto: Elizabeth Sejake

Volgens Cirota en Khali is sanitasie by die hostelle al vir jare ’n probleem.

Cirota sê die inwoners is veronderstel om huur te betaal en die staat is veronderstel om ordentlike munisipale dienste aan die hostelle te lewer. “Maar almal gee almal die skuld.”

Nonhlanhla Mazibuko en Tandeka Mncwabe sê hulle woon saam met nege ander mense in ’n wooneenheid. Hulle is bang as hulle snags toilet toe moet gaan, want dis nie veilig hier nie.

Nkosinathi Shandu sê hy woon al 25 jaar in die hostelle en die toestande het gaandeweg agteruit gegaan. Die toilette het nie meer deure nie, so as mense soontoe gaan roep hulle eers uit om te hoor of daar reeds iemand binne is.

’n Siek hond by die Thokoza-hostelle se agterlyf het ingegee toe hy probeer loop het.

Daar is ook nie aparte toilette vir mans en vroue nie. Volgens Shandu is ’n man in ’n toilet doodgeskiet en ’n vrou verkrag.

Water word uit ’n boorgat getrek wat in ’n JoJo-opgaartenk op ’n stellasie geberg word. Maar die JoJo lek so erg dat die water op die grond val. Dit het intussen die grond agter een blok deurdrenk en by die hostel se fondament ingesypel.

Shandu sê van die inwoners hou jaghonde aan waarmee hulle naby Heidelberg in die veld gaan jag vir kos.

Toe Rapport daar was, was een van die honde merkbaar sterwend. Die DBV het hom met die eienaar se toestemming van kant gemaak.

Volgens Khali bedryf van die hostelbewoners snoepwinkels en ander doen los werkies, maar die meeste mense hier het nie werk nie.

Drie vroue in hul wooneenheid.

Hulle kan nie huurgeld vir die hostelle aan die provinsie se departement van menslike nedersettings betaal nie.

Hy het Rapport afgeraai om ’n spesifieke blok te besoek omdat die inwoners dit nie sou duld nie. Hulle gebruik dit vir prostitusie.

Cirota sê dit gaan só sleg by al die hostelle in die provinsie wat aan die staat behoort.

Die totale gebrek aan higiëne is onaanvaarbaar onder enige omstandighede, maar veral nou met die Covid-19-pandemie, sê hy.

Cirota sê meer as een miljoen Gautengers wag dat die regering huise aan hulle toeken, maar die provinsiale departement van menslike nedersettings misluk keer op keer daarin om sy kwartaallikse teikens te bereik.

Dit sluit teikens in vir die opgradering van informele nedersettings; die uitdeel van erwe (land parcels); en die voltooiing van halfklaar behuisingsprojekte.

Mense kan en mag nie in sulke toestande soos by die hostelle leef nie.

Die departement was veronderstel om in die jaar tot Maart 2021 altesaam 7 375 erwe te koop om aan mense oor te dra. Hulle het net 218 gekoop.

Cirota sê mense word hul grondwetlike reg op waardigheid ontneem deur die toestande by die hostelle.

Die departement het gesê hy kyk na Rapport se navrae oor die aantygings teen hom, maar het teen druktyd nie daarop geantwoord nie.

Meer oor:  Dienslewering  |  Armoede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.