Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
'10-ling': IOL vra nou ondersoek, Sanef woedend

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum (Sanef) doen ’n beroep op die bestuur van Independent Media om dringend ’n onafhanklike ondersoek na die beriggewing oor die sogenaamde Tembisa-tienling te laat doen.

Sanef sê in ’n verklaring hy is “woedend oor die algehele ineenstorting van joernalistieke etiek en standaarde” in die beriggewing oor die aangeleentheid deur Independent Media.

Gosiame Sithole voor die geboorte van haar 'tienling', wat die wêreld aan die gons het. Foto: IOL/Twitter

Volgens Sanef het Piet Rampedi, redakteur van Pretoria News, op Dinsdag 8 Junie ’n hoofberig in die koerant en op die IOL-webwerf geskryf “wat dit as ’n feit gestel het” dat Gosiame Sithole die lewe geskenk het aan tien babas en die Guinness-wêreldrekord verbeter het.

Luidens hierdie eerste “eksklusiewe” berig is sewe seuntjies en drie meisietjies op Maandagaand 7 Junie op 29 weke in ’n private hospitaal gebore.

Tebogo Tsotetsi, die pa van hierdie “tien babas”, het die nuus met Rampedi gedeel.

Tot nou toe is geen bewyse van die babas se bestaan gelewer nie, terwyl verskeie hospitale en die regering amptelik gesê het hulle dra geen kennis van die gebeurtenis nie.

In ’n verklaring wat Dinsdag laatmiddag uitgereik is, sê die Tsotetsi-familie dat nóg die babas nóg die babas se ma opgespoor kan word, het Hanti Otto vroeër berig. Hulle aanvaar nou dus dat die “tienling” nie bestaan nie totdat die teendeel bewys word.

Op ’n vergadering in die familiehuis in Tembisa het die pa erken dat hy self ook nog nie die “tienling” gesien het nie. Hy het maar op inligting van Sithole staatgemaak. Die familie was dus afhanklik van die “ma” vir inligting. Sy het egter intussen haar foon afgesit en kontak met hulle verbreek, lui die verklaring.

“Dit is nou duidelik dat Rampedi nooit die babas gesien het of ’n bewys van hul geboorte gehad het nie, maar slegs op WhatsApp-boodskappe tussen Sithole en Tsotetsi gesteun het om oor hul geboorte te rapporteer. Dit is roekelose en onverantwoordelike joernalistiek van die hoogste orde,” sê Sanef in sy verklaring.

Hierdie hele episode is een van die laagste punte in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse joernalistiek
Sanef

“Hierdie hele episode is een van die laagste punte in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse joernalistiek. Die versuim van Rampedi en Independent Media om basiese feitekontrole te doen en grandiose uitsprake te verifieer voor publikasie, het die hele joernalistieke beroep ondermyn en skade berokken.

“Die Suid-Afrikaanse Perskode is duidelik dat joernaliste die grootste sorg aan die dag moet lê wanneer hulle verslag doen oor aangeleenthede waarby kinders betrokke is. Hoewel Independent Media nie ’n ondertekenaar van die Perskode is nie, is dit duidelik dat van alle joernalistieke standaarde in die hantering van hierdie berig afstand gedoen is.

“Sanef doen ’n beroep op die bestuur van Independent Media om dringend ’n onafhanklike ondersoek onder leiding van ’n kenner van media-etiek te laat doen om ondersoek in te stel na hoe Rampedi en sy kollegas die berig ondersoek, gerapporteer en daarop gereageer het.”

Pogings om Rampedi Woensdag vir kommentaar te bereik, was onsuksesvol.

Hy het in ’n plasing op Facebook en Twitter gesê: “Suid-Afrika, ek is ’n geloofwaardige en betroubare joernalis wat nooit vir jou gejok het nie. Independent Media ook. Ons sal nie vandag begin nie. Ons het hier met iets groters te doen. ’n Groot sameswering. ’n Toesmering. Ongekende goed. Wees gerus. Vertrou ons. Ons sal nooit teleurstel nie (sic).”

piet, tienling

Kort nadat die Tsotetsi-familie se verklaring uitgereik is, het Rampedi ’n video op sosiale media gedeel waarin Sithole beweer dat alles wat die Tsotetsi-familie oor haar gesê het, onwaar is, berig News24.

“Ek het seer. Alles wat hulle (die Tsotetsi-familie) van my gesê het, is verkeerd. Hulle is onregverdig. Hulle doen dinge om my te mishandel,” het Sithole Dinsdagaand in die video-onderhoud gesê.

Volgens News24 is dit nie duidelik hoe en waar Rampedi hierdie onderhoud met haar gevoer het nie.

Sy het in die video gesê dat sy ’n paar keer met Tsotetsi gepraat het oor hoe sy familie haar behandel.

Ek dink hulle was nooit lief vir my nie, en meen dat ek my op hulle afgedwing het

“Ek dink hulle was nooit lief vir my nie, en meen dat ek my op hulle afgedwing het. Hulle wil geld uit my kinders (die tien babas) maak. Ek weet nie hoekom hulle agter my aan is nie.

“Is hulle seker ek het nooit gekraam nie? Ek gaan doen wat my gelukkig maak.

“Hulle wil hê wat myne is (die babas). Hulle weet nie wat hulle sê nie en praat net om te praat.

“Ek sal nie maak soos hulle wil hê nie. Hul wens sal nooit gebeur nie. Ek sal hulle nooit gelukkig maak nie,” het sy bygevoeg.

Sithole beweer die familie wil deur haar kinders miljoenêrs word.

“Hulle wou uit skenkings ryk word. Niemand sal my dwing om bekend te maak waar my (tien) babas is nie. Ek sal op my eie tyd bekend maak waar hulle is en niemand gaan my dwing nie,” het sy gesê.


IOL vra nou ondersoek na 'tienling'

IOL, wat die nuus gebreek het oor “die wêreld se eerste tienling”, hou voet by stuk dat dit nié fopnuus is nie en sê die babas is op 7 Junie in die Steve Biko-hospitaal in Pretoria gebore.

In ’n verklaring wat Woensdagaand op die groep se webblad uitgereik is, word aangevoer dat dié inligting “deur verskeie onafhanklike bronne, asook personeel van die hospitaal” bevestig word.

Lees die volle verklaring hier.

Verder voer die groep aan die Gautengse gesondheidsdepartement is besig met ’n enorme toesmeerdery.

As die wetstoepassingsowerhede dit vra, sal die groep al sy bewyse en getuies oorhandig, sê hulle.

Die geboorte van Gosiame Sithole se tienling het die land (én die res van die wêreld) aan die gons, terwyl niemand nog die babas gesien het nie.

Familie van die pa, Tebogo Tsotesi, het Dinsdag in ’n verklaring gesê hulle kon nog nie die babas of die ma opspoor nie.

Tsotesi het erken hy het self nie sy kinders gesien nie en het op inligting staatgemaak wat Sithole via WhatsApp daaroor gestuur het.

IOL het self ondersoek ingestel en wil nou van die hospitaal weet hoekom hulle die babas wegsteek.

“Met inagneming van ons bevindings, vra Independent Media ’n dringende ondersoek na die optrede en verklarings van die uitvoerende hoof van die hospitaal, die Gautengse regering, asook die LUR vir gesondheid,” lui die verklaring.

IOL lys dan tien vrae wat beantwoord moet word, en sê hy staan by sy storie én by Piet Rampedi, redakteur van die Pretoria News, wat die storie geskryf het.

Die onderskeie departemente en die hospitaalwoordvoerder het nie dadelik op navrae gereageer nie.

Meer oor:  Gosiame Sithole  |  Tebogo Tsotetsi  |  Tienling  |  Independent Media  |  Geboorte  |  10-Ling  |  Sanef
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.