Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
‘10-ling’: Niks om te ondersoek, sê owerheid

Die Gautengse provinsiale regering gaan nie, soos deur Independent Online (IOL) versoek, ondersoek instel na die sogenaamde geboorte van ’n tienling in een van sy hospitale verlede week nie.

IOL vra dat staatsamptenare “antwoorde gee” oor die kwessie.

Volgens Vuyo Mhaga, woordvoerder in die kantoor van David Makhura, premier, is daar niks om te ondersoek nie en staan die Gautengse provinsiale regering by die verklaring wat hy op Woensdag 9 Junie uitgereik het.

“Wat is daar om te ondersoek? Ons het al die hospitale in Gauteng gebel en nie een van hulle het die geboorte van tien babas bevestig nie,” sê Mhaga.

“Ons het in hierdie stadium geen rede om anders te glo nie.”

Luidens die verklaring waarna Mhaga verwys, dra geen private of staatshospitaal in Gauteng kennis van die “tienling” se geboorte nie.

“Die provinsiale regering het ’n deeglike ondersoek by alle hospitale in die provinsie gedoen om vas te stel wat die waarheid is. Nie een van die hospitale in die provinsie, privaat of van die staat, het rekord van so ’n geboorte nie.”

Gosiame Sithole voor die geboorte van haar 'tienling' wat die wêreld aan die gons het. Foto: IOL/Twitter

Die Gautengse gesondheidsdepartement het Netwerk24 by navraag na hierdie einste verklaring verwys, terwyl dr. Mathabo Mathebula, uitvoerende hoof van die Steve Biko-hospitaal in Pretoria, navrae na Mhaga verwys het.

IOL, wat die nuus oor “die wêreld se eerste tienling” versprei het, hou voet by stuk dat dit nié fopnuus is nie en sê die babas is op Maandag 7 Junie in die Steve Biko-hospitaal gebore.

Luidens die eerste “eksklusiewe berig” op Dinsdag 8 Junie deur Piet Rampedi, redakteur van Pretoria News, het Gosiame Sithole die vorige dag geboorte gegee aan sewe seuntjies en drie meisietjies.

In ’n verklaring wat Woensdagaand op IOL se webblad uitgereik is, word aangevoer dat dié inligting “deur verskeie onafhanklike bronne, asook personeel van die hospitaal”, bevestig word.

Verder voer die groep aan die Gautengse gesondheidsdepartement is besig met ’n enorme toesmeerdery.

As die wetstoepassingsowerhede dit versoek, sal die groep al sy bewyse en getuies oorhandig, sê hy.

Mhaga sê hy gaan nie reageer op IOL se aantygings teen die Gautengse gesondheidsowerhede nie.

Die geboorte van Sithole se “tienling” het die land (én die res van die wêreld) aan die gons, terwyl niemand nog die babas gesien het nie.

Familie van die vermeende pa, Tebogo Tsotetsi, het Dinsdag in ’n verklaring gesê hulle kon nog nie die babas of die ma opspoor nie. Hulle aanvaar nou dus dat die tien babas nie bestaan nie totdat die teendeel bewys word.

Tsotetsi het erken hy het self nie sy kinders gesien nie en het op inligting staatgemaak wat Sithole via WhatsApp daaroor gestuur het.

Kort nadat die Tsotetsi-familie se verklaring uitgereik is, het Rampedi ’n video op sosiale media geplaas waarin Sithole beweer dat die Tsotetsi-familie deur haar tien babas miljoenêrs wou word, berig News24.

Intussen het die nasionale redakteursforum, Sanef, in ’n verklaring gesê hy is “woedend oor die algehele ineenstorting van joernalistieke etiek en standaarde” in die beriggewing oor die aangeleentheid deur Independent Media.

IOL het self ondersoek ingestel en wil nou by die hospitaal weet hoekom hy die babas wegsteek.

“Met inagneming van ons bevindings, vra Independent Media ’n dringende ondersoek na die optrede en verklarings van die uitvoerende hoof van die hospitaal, die Gautengse regering, asook die LUR vir gesondheid,” lui ’n verklaring wat Independent Media Dinsdagaand uitgereik het.

IOL lys dan tien vrae wat beantwoord moet word, en sê hy staan by sy storie én by Rampedi.

Meer oor:  Piet Rampedi  |  Gosiame Sithole  |  Tienling  |  Fopnuus  |  Swangerskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.