Hiermee die 10 moet-lees-stories op Dinsdag 19 Januarie 2021.
Sy huil in haar kar op pad werk toe en op pad huis toe, want sy ontstel haar ma en seun as sy by die huis huil, het ’n dokter wat in ’n ongevalle-afdeling in die voorste linie teen Covid-19 werk, aan Jana Marx gesê.
’n Boer in Noordwes is dood enkele maande voordat ’n moordsaak teen hom, sy seuns en hul plaaswerkers Maandag in die hooggeregshof in Mmabatho teruggetrek is.
Die helikoptervlieënier, glo in sy middel 20’s, wat Dinsdagoggend naby Wolseley in Eskom-kraglyne vasgevlieg het terwyl hy bespuiting gedoen het, is in die ongeluk dood.
Die sanger Kurt Darren is weer op die been en sterk tuis aan nadat hy aan die begin van die jaar deur die koronavirus platgeduik en in Centurion in die Mediclinic Midstream-hospitaal opgeneem is.

Kurt Darren Foto: Christian Wolf
Ben McDermott het Maandag glo die grootste ses in die tienjarige geskiedenis van die Australiese Big Bash League (BBL)-T20-reeks gemoker.
Die tussentydse verslag oor rassisme in die mediesefondsbedryf word Dinsdagoggend uitgereik nadat die mediese skema vir staatsamptenare (Gems) sy dringende aansoek om ’n interdik verloor het.
“Dit was marteling.” Dit is hoe ’n speurder van die Amerikaanse deelstaat Florida die mishandeling van ’n 11-jarige seun beskryf het, nadat hy uit die greep van sy stiefpa gered is deur ’n kelnerin wat die kind se beserings opgemerk het.
Die appèlhof in Bloemfontein het beslis dat ondernemings wat sleepwaens uitverhuur, nie meer verantwoordelik is vir verkeersoortredings wat hul kliënte begaan terwyl die sleepwaens in hul besit is nie.
Die tropiese storm Eloise sal die kus van Madagaskar aan die Sava-streek na alle waarskynlikheid laat Dinsdagaand bereik.
Die persentasie mense in hoë-inkomstegroepe wat hul woonhuise verkoop om te emigreer, is aan die styg. Dit is nou dubbeld die gemiddeld.