Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
114 jaar later, en hy hou sy vrou op haar tone

“Eer jou vader en jou moeder en die Here sal jou dae verleng.” Dit is die geheim tot ’n lang lewe, volgens Fredie Blom van Delft in die Wes-Kaap wat Dinsdag 114 jaar oud geword het.

Die oudste man in die wêreld wat amptelik deur Guiness World Records erken word, is Masazo Nonaka van Japan wat 112 jaar oud is.

Die tuinier van Delft, wat nie kinders van sy eie het nie, is volgens sy identiteitsdokument in 1904 in Adelaide in die Oos-Kaap gebore.

Fredie en sy vrou, Jeanette (85). Foto: Adrian de Kock

Blom se vrou, Jeanette (85), sê dat haar man haar ná ’n huwelik van 48 jaar steeds op haar tone hou.

“Fredie is ’n rustige man, maar hy maak nog nou en dan sy stem dik,” het sy gesê.

Sy sê soos alle huwelike is daar maar nou en dan probleme, maar hul geheim is “daar moet vrede in die huis wees voordat die son onder gaan”.

Jeanette sê haar Fredie is ná al die jare steeds lief daarvoor om tuin te maak en voordat hy afgetree het, het hy die meeste van sy tyd in die bos deurgebring waar hy hout bymekaar gemaak het.

“Nou krap hy oral rond en vroetel in en om die huis.”

Fredie Blom van Delft wat Dinsdag 114 jaar oud geword het en vermoedelik die oudste man ter wêreld is.Foto: Adrian de Kock
Fredie Blom, 114, kon nie ’n koek bekostig nie en Charly’s Bakery het hom met hierdie koek verras. Foto: Adrian de Kock

Hy is geseënd omdat hy op sy ouderdom nog perdfris en gesond is. “Dis net sy bene wat pla en hy raak nou bietjie doof ook,” sê sy.

Volgens die familie was die verjaardagviering vanjaar ekstra spesiaal. “Hy is lekker bederf en het al die aandag so geniet. Ons huis was tot laat vol mense en almal het ingekom om hom geluk te wens. Hy glimlag nou nog van oor tot oor,” sê ’n giggelende Jeanette.

Sy sê hoewel hulle nie kinders saam het nie, het hulle ’n grootmaakkind wat hulle ingevat het, en een kleinkind.

Jeanette het twee kinders uit ’n vorige verhouding gehad, maar albei is reeds dood.

Oor die koek wat haar man as geskenk van ’n bakkery gekry het, sê Jeanette: “Dit het so deftig gelyk dat mens dit skaars wou sny.”

Volgens die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling is Blom se status steeds nie deur Guinness World Records erken nie, maar Blom kan wel die oudste man ter wêreld wees.

Albert Fritz, Wes-Kaapse LUR vir maatskaplike ontwikkeling, het Blom namens die Wes-Kaapse regering ’n gelukkige verjaardag toegewens.

Meer oor:  Verjaardag
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.