Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
13-jarige dood nadat hy ineensak by huis
’n Trotse pa-en-seun-oomblik. Jake Visser het Maandag by die St. John’s College in Johannesburg aangesluit vir die gr. 8-oriënteringsprogram. Hier is hy saam met sy pa, dr. Jacques Visser, ’n veearts by die Oaklands-veeartsenykliniek. Foto: Verskaf

’n Seun (13) van Johannesburg, wat vandeesweek met sy hoërskoolloopbaan by ’n private skool begin het, is dood nadat hy Woensdagmiddag by die huis inmekaargesak het.

Jake Visser was op die kruin van sy lewe en het gebars van trots om vanjaar ’n gr. 8-leerling aan die St. John’s College te wees.

Hy was sy ouers, drs. Jacques en Charlotte Visser, veeartse by die Oaklands-veeartsenykliniek, se hele bestaan.

“Hy was ons lewe – ’n pragtige, pragtige seun. Hy was net ’n ongelooflike kind,” het Jacques Visser gesê.

Visser het omstreeks 15:00 op Jake se lyk afgekom toe hy na hom gaan soek het.

Hy het sy seun geroep, want sy ma sou hom binnekort oplaai om vir swemlesse te neem.

Jake het egter nie gereageer nie, so hy het aangeneem dat sy hom reeds kom haal het.

Jake Visser (13) saam met sy pa, dr. Jacques Visser, ’n veearts by die Oaklands-veeartsenykliniek, Maandag op sy eerste dag as ’n gr. 8-leerling aan die St. John’s College in Johannesburg. Foto: Verskaf
Jake Visser (13) Maandag by die St. John’s College in Johannesburg se gr. 8-oriënteringsprogram. Hy is Woensdagmiddag dood nadat hy by die huis inmekaargesak het. Foto: Verskaf

“Toe Charlotte bel en sê sy is amper by die hek, het ek besef hy is nie saam met haar nie. Dis toe dat ek hom leweloos aangetref het,” sê Visser.

Die egpaar het kardiopulmonêre resussitasie op Jake toegepas totdat professionele hulp opgedaag het.

Met hul aankoms het die paramedici nog ’n uur gespook om die seun by te bring.

“Maar sy hart het nooit weer geklop nie,” sê die pa.

Die presiese oorsaak van Jake se dood is nog onbekend.

Sy ouers beskryf hom as ’n goue seun en kan nie uitgepraat raak oor hoe wonderlik hy was nie.

“Hy het die ongelooflikste sin vir humor gehad en almal laat lag. Hy was so slim en sportief,” sê Charlotte.

Jake was veral ’n kranige swemmer en het akademies uitgeblink, vandaar die akademiese beurs wat St. John’s College vir hom gegee het.

“Ek kan eintlik nie verduidelik hoe opgewonde hy was om hoërskool toe te gaan nie. Hy was so trots omdat hy nou ’n St. John’s-boy is,” sê Visser.

Hy het verlede jaar sy laerskoolloopbaan aan die Laerskool Jan Celliers voltooi.

As jy vir Jake verstaan het, dan was jou lewe onmiddellik verryk. En nou is die musiek in ons huis af – vir altyd.

Hul seun was ook baie sosiaal en baie lief vir sy vriende.

“Hy het ’n groot vriendekring gehad en hulle is almal platgeslaan,” sê die ma.

Sy sal hom altyd onthou as die bruingebrande seun met die woeste krulle.

“As jy vir Jake verstaan het, dan was jou lewe onmiddellik verryk. En nou is die musiek in ons huis af – vir altyd,” sê Visser.

“Jake was net groter as alles om hom. Hy was ’n mense-mens en wou net almal gelukkig maak. Ek sal hom nooit in my lewe kan vergeet nie.”

Jake word ook oorleef deur ’n jonger suster, Isla (11), vir wie hy volgens sy ouers net so lief was.

Nog geen begrafnisreëlings is getref nie.

Skole onthou Jake

• “Jake was geweldig trots op sy beursprestasie en het daarna uitgesien om sy volgende hoofstuk by St. John’s College te begin. Hy het Maandag by die kampus aangesluit vir die gr. 8-oriënteringsprogram en sy maats sou hom Woensdagoggend in hul aanlyn klasse gesien het. Daar is geen twyfel dat hy ’n groot aanwins vir St. John’s College sou wees en hier sou uitgeblink het nie.” – St. John’s College via die skool se webblad.

• “Ons as ’n Jan Celliers-gemeenskap is ontsaglik hartseer om van hierdie nuus te verneem. Ons deel ons liefde, ondersteuning en gebede met die Visser-gesin.

“Ons bid God se vertroosting aan u.

“Liewe Jake, ons dra jou in ons harte, ALTYD.” – Laerskool Jan Celliers via Facebook.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.