Altesaam 15 werknemers van die SAUK is vir rookinaseming en brandwonde behandel nadat ’n brand Dinsdagoggend by die Radiopark in Auckland Park, Johannesburg, uitgebreek het.
Die brand het omstreeks 11:00 in ’n eetsaal op die gebou se K1-verdieping (reg onder die grondverdieping) begin en al die personeel is om veiligheidsredes vir ’n kort ruk uit die gebou ontruim.

Een van ER24 se noodvoertuie staan nog voor die SAUK geparkeer nadat die nooddiens Dinsdagoggend werknemers vir rookinaseming en brandwonde behandel het.Foto: Jana Marx

Een van ER24 se noodvoertuie staan nog voor die SAUK geparkeer nadat die nooddiens Dinsdagoggend werknemers vir rookinaseming en brandwonde behandel het. Foto: Jana Marx
Volgens Russel Meiring, ER24-woordvoerder, was daar minstens drie nooddienste op die toneel, wat altesame 15 pasiënte behandel en na die Netcare Milpark-hospitaal vervoer het.
Volgens Meiring is die brandwonde matig. Hy was nie seker of dié pasiënte net behandel is en of hulle vir verdere waarneming in die hospitaal opgeneem is nie.
Toe die nooddiens voor die SAUK-gebou opdaag, was die brandweer reeds besig om die brand in die eetsaal te blus.
Intussen moes die SAUK sy radio-uitsendings inderhaas aanpas. RSG moes sy Oggend op RSG-program deur die Kaapse omroepers, Martelize Brink en Johan Rademan, met ’n uur verleng, terwyl die Middag op RSG-program wat uit Johannesburg uitgesaai word, deur die brand onderbreek is. Ettienne Ludick en Sue Pyler van die Middag op RSG-program het om 14:00 weer oorgeneem.
Netwerk24 het verneem dat ’n stukkende transformator – die hooftransformator – moontlik tot die brand kon lei. Volgens Netwerk24 se inligting het die stukkende transformator vermoedelik veroorsaak dat kragkaste oorlaai word.
Vuyo Mthembu, SAUK-woordvoerder, het by navraag gesê sy dra nie kennis van ’n gebreekte transformator nie, maar dat die brand deur ’n elektriese fout in een van die kragbokse veroorsaak is. Volgens Mthembu is alle bedrywighede by Radiopark terug na normaal.