Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
15-jarige het ’n plan om padongelukke te voorkom

’n Jong wetenskaplike van Vryburg in Noordwes het met ’n slim idee vorendag gekom wat dalk net in die toekoms ’n impak op padsterftes kan hê.

Die 15-jarige Samirah Kaka sê sy is bekommerd oor die getal mense wat jaarliks op Suid-Afrikaanse paaie sterf. Dit het haar aangespoor om ’n toestel te ontwikkel wat kan help om padongelukke te probeer voorkom.

Samirah Kaka op die Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes vroeër vanjaar. Foto: Verskaf

Dié vernuftige toestel genaamd ICUC wat in Engels staan vir “ek kan sien wat jy kan sien” moet volgens haar projek aan motoriste wat agter vragmotors ry toon wat voor in die pad gebeur. Motoriste moet dus dieselfde uitsig as die vragmotorbestuurder hê.

Volgens Samirah, ’n gr. 9-leerling aan die Kismet- Gekombineerde Skool, word ’n kamera in ’n vragmotor teen die paneelbord aangebring en ’n skerm aan die agterkant.

Die kamera neem alles af wat voor in die pad gebeur en vertoon dit agter op die skerm. Sodoende kan ’n motoris “deur die vragmotor sien” en ’n goeie idee kry of dit veilig is om dit verby te steek.

“Padongelukke gebeur dikwels wanneer motoriste agter vragmotors ry en nie ’n goeie uitsig op aankomende verkeer het nie. Dis ook nie maklik om hulle verby te steek nie. Dit het my aan die dink gesit.

“My prototipe was ’n selfoon en ’n skootrekenaar wat ek in my pa se bakkie getoets het. Die beelde word van die selfoon deur ’n bestaande app na die skootrekenaar gestroom.

Dit werk doeltreffend gedurende die dag en nag,” het sy verduidelik.

Samirah se projek was onder die 600 op ’n Eskom-ekspo vir jong wetenskaplikes wat haar ’n silwermedalje in die internasionale afdeling besorg het.

’n Skootrekenaarskerm agterin die bakkie van Samirah Kaka se pa toon wat voor in die pad gebeur. Dis die prototipe van Kaka se projek waarin ’n skerm aan die agterkant van vragmotors aangebring word wat aan voertuie wys of daar aankomende verkeer is. Foto: Verskaf

Deelnemers moes ’n basiese wetenskaplike metode gebruik, ’n hipotese ontwikkel en dit toets.

“Ek wil my projek volgende jaar weer inskryf met verdere wysigings. Die plan is dat die finale produk op die skerm aandui wat die afstand is wat ’n aankomende voertuig van die vragmotor is en teen watter spoed dit ry. ’n Groen en rooi lig kan vir motoriste aandui of dit veilig is om die vragmotor verby te steek.

“Ek sou graag wil sien dat so iets in die toekoms verpligtend vir alle vragmotors op die langpad word. Die hoop met die uitvindsel is om te voorkom dat mense vragmotors op onveilige wyse verbysteek.”

Meer oor:  Vryburg  |  Vragmotors  |  Ongelukke  |  Rekenaar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.