Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
15-jarige was ma se ‘vrolike kind’, baie lief vir rugby

Hy is haar kind wat altyd gelag het.

“My vrolike kind. Die een wat ek, vandat hy op hoërskool is, net naweke en oor vakansies gesien het.”

Só het Elizabeth Adelaar (34), ma van die 15-jarige Benwill Adelaar, die rugbyspeler van die Sekondêre Skool Albert Myburgh op Bredasdorp wat Donderdag dood is ná ’n besering in ’n rugbywedstryd, Vrydag gesê gaan sy haar seun onthou.

Benwill Adelaar (15) Foto: Facebook

“Hy is my oudste.”

Sy het gesê hy was baie lief vir rugby. “Ek weet nie hoe en wanneer hy dit begin speel het nie, maar hy was altyd baie opgewonde as hy vir die skoolspan gekies is.”

Adelaar en Benwill se pa, Ben Matthews, het hul oudste kind se lyk Vrydag by die staatslykshuis in Worcester gaan uitken. ’n Lykskouing is ook daar gedoen om die presiese oorsaak van sy dood vas te stel.

Adelaar wou egter nie sê wat die uitslag van die lykskouing is nie. “Dis vir ons almal nog baie moeilik om te aanvaar dat hy dood is. Nie ek of sy pa voel nou al gereed om nog meer oor ons kind se dood te praat nie.”

Die gesin woon op Ou Plaas buite Bredasdorp. Benwill het volgens Kenneth Dunsdon, Albert Myburg se hoof, tydens die skooltermyn by sy voog op die dorp gebly. “Hy het naweke en skoolvakansies huis toe gegaan,” het Dunsdon gesê.

Benwill is Donderdag in ’n o.15-wedstryd teen die span van die Sekondêre Skool Villiersdorp beseer. Hy is behandel, maar is later aan sy beserings dood.

Dunsdon het Vrydag gesê die polisie het aan hom gesê Benwill is glo in ’n omdop-duikslag opgetel en het vermoedelik op sy nek geval.

In die ingangsportaal by die skool het daar Vrydag kerse op ’n tafeltjie langs ’n geraamde foto van Benwill gebrand.

Vriende en kennisse het Donderdagaand hulde aan Benwill gebring.

Dunsdon sê hulle het die oggend ’n diens by die skool gehou en beraders van die Wes-Kaapse onderwysdepartement (WKOD) is ook by die skool om Benwill se spanmaats by te staan.

“Die beraders gaan ook later met sy klasmaats en vriende praat, asook met die onderwysers.”

Hy sê ook Ivan Pekeur, president van Boland Rugby, is op pad na Bredasdorp om met hulle oor die gebeure te praat.

Godfrey Gertse, Boland Rugby se mediakoördineerder, het Vrydag bevestig Pekeur gaan die skool besoek.

“Die president kom om met die hoof en die ouers oor die gebeure te praat en om met hulle te simpatiseer.”

Hy sê die unie gaan sy eie ondersoek na die gebeure doen.

“Wat dit gaan wees of hoe dit gedoen gaan word, kan ek ongelukkig nie nou al sê nie.”

Benwill se spanmaats het Donderdag kort ná die voorval in ’n kring op die veld gekniel, elkeen op een knie, om hul respek te toon.

Intussen het die WKOD ook hul medelye met Benwill se dood betuig. Bronagh Hammond, WKOD-woordvoerder, het gesê dat Benwill as ’n presteerder op die skool beskryf is en dat sy klasmaats hom baie gaan mis. Sy het bevestig dat die WKOD-beraders na die skool gestuur het om sy spanmaats, sowel as sy klasmaats, ander vriende en ook onderwysers by die skool by te staan.

Sers. Noloyiso Rwexana, ’n polisiewoordvoerder, het Donderdag gesê die polisie het ’n geregtelike doodsondersoekdossier geopen.

Meer oor:  Bredasdorp  |  Rugbyspeler  |  Sterfgeval
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.