Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
150 diere van Bfn-dieretuin kry groener weivelde
Shevar en Sharukh, twee Bengaalse tiere van die Bloemfonteinse dieretuin, met hul aankoms Dinsdag by Lionsrock buite Bethlehem.Foto: Daniel Born/Four Paws

Twee Bengaalse tiere van die Bloemfonteinse dieretuin is dolgelukkig by Lionsrock by Bethlehem, sê MJ Lourens van Four Paws, ’n dierewelsynsgroep waarvan Lionsrock een van die projekte is.

Shevar en Sharukh, twee broers, word nou in die voerkrale aangehou nadat hulle Dinsdag daar aangekom het. Hulle lyk reeds gesond en gelukkig.

“Hulle moet eers weer in die natuur aanpas,” sê Lourens. Ná ’n paar weke sal hulle in die res van die kamp waar ook ander tiere is, toegelaat word.

Dié tiere is twee van sowat 150 diere van die Bloemfonteinse dieretuin waarvoor die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (BDBV) gesamentlik meer as 5 000 km moes ry om nuwe verblyf kry. Dit volg op die onlangse sluiting van die dieretuin.

Reinet Meyer, senior inspekteur van die BDBV, sê dit gee haar groot genoegdoening om te weet die BDBV kon help om dié diere van verhongering en verdere lyding uit die Bloemfonteinse dieretuin te red.

Sy sê die BDBV het die afgelope drie weke met twee en soms drie bakkies tot snags oor wye afstande gery om die diere veilig by nuwe bestemmings te bring.

“Maar ons sal dit enige tyd weer vir die diere doen. Dit was helse werk, maar die beloning was deurentyd die redding van die diere en om ’n beter lewe vir hulle te skep.”

Shevar en Sharukh moet eers in voerkrale gehou word voordat hulle in die res van die kamp vrygelaat sal word. Die tiere moet eers aanpas in die natuur nadat hulle in slegte omstandighede by die Bloemfonteinse dieretuin aangehou was. Foto: Daniel Born/Four Paws

Sy sê die departement van ekonomiese en kleinsake-ontwikkeling, toerisme en omgewingsake (Destea) het die herkouers, soos die bokke en renosters, verskuif.

Die R300 000 se papegaaie wat na Birds of Eden by Plettenbergbaai sou gaan, is egter steeds weg. ’n Private speurder gaan help om hulle te soek.

Sy sê die dieretuin is nou permanent toe nadat Destea dit moes sluit toe vyf diere daar gevrek het.

“Die laaste drie weke was ’n emosionele wipwaentjie-rit vir die BDBV en alle departemente, instansies en organisasies wat met hulle saamgewerk het.”

Dr. Karin Lourens van die Johannesburgse Wildlife- Veterinêre Hospitaal sê 26 van die dieretuin se diere is by haar. Hulle was in ’n slegte toestand en maer toe hulle daar aankom.

“Hulle het die eerste vyf dae omtrent net gevreet en gevreet.”

Baba Sebolao, koukusleier van die EFF in die Mangaung-metro, sê intussen sy party gaan Maandag ’n klag van dieremishandeling teen Olly Mlamleli, burgemeester, en adv. Thankiso Mea, stadsbestuurder, by die polisie indien.

Destea het die dieretuin reeds in Desember weens ’n permitprobleem gesluit en sedertdien is die omstandighede ondersoek en gemonitor om vas te stel wat die toestand van die diere werklik was.

Mea is verskeie kere om kommentaar gebel, maar hy het nie sy telefoon beantwoord nie.

Meyer sê die BDBV is verheug dat die diere, benewens die elf buffels wat later verskuif sal word, nou in gelukkiger omstandighede sal kan bly.

“Ons kon dit nie sonder die toestemming van Destea en spesifiek Nozi Nkoe en ander senior personeel van Destea doen nie. Ons bedank ook al die wonderlike organisasies en instansies wat ter elfder ure aan boord gekom het om die diere te help red.”

Sy vra die publiek om die volgende organisasies waarheen die diere is te ondersteun: die Johannesburgse Wildlife- Veterinêre Hospitaal, Panthera Africa Big Cat Sanctuary, Four Paws South Africa, Lions Rock, Love Lions Alive-projek, die Born Free-stigting by Shamwari, Jukani, Birds of Eden and Monkeyland, die De Wildt Ou Kapel- veterinêre kliniek, en Humane Society International.

Besoek die webwerf bloemfonteinspca.co.za om ’n skenking te doen.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.