Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
2 500 km op trekker om kinders te help

’n Afgetrede dokter van Witrivier in Mpumalanga gaan vir die volgende twee weke manalleen sowat 2 500 km aandurf op ’n trekker – alles vir liefdadigheid.

Dr. André Hattingh, stigter van die organisasie Pediatric Care Africa, wat mediese behandeling vir kinders help finansier en self inspring om te help, sê hy doen dit om geld in te samel vir kinders wat mediese sorg en operasies nodig het.

Hoewel hy met sy reis op die trekker geld wil insamel om in die behoeftes van siek kinders te voorsien, het hy besluit om dit op ’n trekker te doen sodat hy sommer ook mense kan bewus maak van plaasmoorde en -aanvalle.

Dr. André Hattingh, wat sowat 2 500 km deur vyf provinsies gaan ry om geld in te samel vir mediese behandeling en operasies vir kinders.

Die arts het Sondag omstreeks 09:00 uit Witrivier vertrek. Hy is vergesel van lede van die motorfietsgroep 911 Riders, wat hulle veral vir die bewusmaking van plaasmoorde beywer.

Hy sê motorbestuurders op die pad is vriendelik. Van hulle waai vir hom en wys duime.

“Hoor jy hoe blaas daai ou sy hooter en (sien jy hoe) waai hy vir my?” sê hy Maandag op die trekker op pad na Mokopane, waar hy gaan slaap.

Hattingh sê hy ry teen 29 km/h.

Daar is vir seker uitdagings, maar “ek gaan dié rit voltooi”.

Dr. André Hattingh, gereed vir die groot uitdaging.

“My nek pyn en my rug is seer, maar ek moet klaarmaak. Daar is baie kinders wat op my staatmaak. Hulle moet geopereer word. Kinders is heeltemal weerloos en kan hulself nie beskerm nie. Hulle is afhanklik van hul ouers, wat soms nie geld het nie,” sê Hattingh, wat op ’n plaas in Koster in Noordwes grootgeword het en dus sy sit op ’n trekker ken.

Hy sê hy doen sy werk vir die organisasie met groot plesier en liefde.

Surika van der Merwe, woordvoerder van Pediatric Care Africa, sê skenkings vir die organisasie het aansienlik gekrimp sedert die begin van die Covid-19-pandemie. Dít terwyl die vraag na dienste geweldig gestyg het.

Die gewone maniere om geld in te samel, moes ook skielik verander weens die inperkingsmaatreëls. Dit is juis waarom Hattingh die tog aanpak. “Ons wil hopelik met dié poging minstens R250 000 insamel vir die kinders in nood,” sê Van der Merwe. “Ons kan dit egter nie alleen doen nie en vra hulp vir die kinders en mense wat vir hulp op ons staatmaak.”

Mense wat geld wil skenk of op ander maniere betrokke wil raak, kan dié webblad besoek: pediatriccareafrica.org.

Die doel van die rit op die trekker is tweeledig en sluit ’n bewusmaking van plaasmoorde en -aanvalle in. Agter op die sleepwa wat aan die trekker gehaak is, is ’n plakkaat wat dié deel verduidelik en sê die rit is ook ter ondersteuning van die 911 Riders, ’n motorfietsgroep teen plaasmoorde en -aanvalle.

Kyk uit vir die trekker in jou dorp

• Dinsdag 4 Mei: Mokopane na Thabazimbi.

• Woensdag 5 Mei: Thabazimbi na Koster

• Donderdag 6 Mei: Koster na Wolmaransstad

• Vrydag 7 Mei: Wolmaransstad na Boshof

• Sondag 9 Mei: Boshof na Winburg

• Maandag 10 Mei: Winburg na Clarens

• Dinsdag 11 Mei: Clarens na Colenso

• Woensdag 12 Mei: Colenso na Kingsley via Dundee

• Donderdag 13 Mei: Kingsley na eMkhondo (Piet Retief)

• Vrydag 14 Mei: eMkhondo na Badplaas

• Saterdag 15 Mei: Badplaas na Witrivier via R33 & R38

Meer oor:  Witrivier  |  Mpumalanga  |  Trekker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.