Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
2 beseer in ongeluk op N8 buite Bfn
Mangaan lê die N8-hoofweg vol ná ’n ongeluk vroeg Vrydagoggend tussen ’n vragmotor en ’n bakkie. Foto: Mlungisi Louw

Twee mense is vroeg Vrydag beseer in ’n botsing reg van voor tussen ’n bakkie en ’n vragmotor op die N8-hoofweg sowat 20 km buite Bloemfontein.

Die verkeersvloei op die hoofweg was vir enkele ure stadiger as normaalweg terwyl werkers die vrag mangaan wat van die vragmotor afgeval het, opgeruim het.

Lukas Bezuidenhout van ER24 sê die bestuurder van die bakkie is op die toneel gestabiliseer en met ernstige beserings na die Mediclinic Bloemfontein geneem, terwyl die vragmotorbestuurder na ’n ander hospitaal in die stad geneem is.

Die vragmotor van Logita Logistics lê op sy sykant ná ’n botsing reg van voor met ’n bakkie Vrydagoggend sowat 20 km buite Bloemfontein. Foto: Mlungisi Louw

Hy sê die ongeluk het Vrydagoggend omstreeks 07:00 op die N8-hoofweg in die rigting van Petrusburg gebeur toe ’n vragmotor en ’n bakkie reg van voor gebots het.

Die bakkie het in die rigting van Petrusburg gery, en die vragmotor na Bloemfontein.

Jose Venter (53), die bestuurder van die bakkie, word vir onder meer frakture aan sy onderbeen, heup en ribbes in die hospitaal behandel.

Barbara Steenkamp, hospitaalwoordvoerder, sê Venter, ’n inwoner van Langenhovenpark in die stad, is in ’n stabiele toestand en gaan binnekort teater toe om geopereer te word. “Hy is in ’n stabiele toestand en het wonderbaarlik geen kopbeserings opgedoen nie.”

Die ongelukstoneel word ná die botsing opgeruim. Foto: Mlungisi Louw

Sy sê hy kan nie veel van die ongeluk onthou nie.

Blessing Khoza (33), die vragmotorbestuurder van Logita Logistics, is Vrydagmiddag omstreeks 13:00 uit die hospitaal ontslaan. Hy het net geringe beserings opgedoen.

Louw Riekert, ’n bestuurder van Logita Logistics, sê volgens twee ooggetuies het Khoza na die skouer van die pad gery om die ongeluk te vermy nadat die bestuurder van die bakkie glo aan die verkeerde kant van die pad gery het.

Riekert sê hy is dankbaar dat Khoza feitlik ongedeerd is. Hy het Venter ook beterskap toegewens.

Die wrak van die bakkie waarin Jose Venter van Bloemfontein gery het. Foto: Mlungisi Louw

Meer oor:  Bloemfontein  |  Ongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.