Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
2 by Robberg in Plet gered

Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) het twee mense te hulp gesnel wat kort ná mekaar mediese hulp benodig het by die Robberg-natuurreservaat in Plettenbergbaai.

Die NSRI sê in ’n verklaring sy lede is Woensdag omstreeks 15:44 ontbied deur ’n 44-jarige Mosselbaaise man wat sleg gevoel het. Hy was op pad na die parkeerterrein nadat hy saam met vriende gehengel het.

Sy vriende was nie by hom nie omdat hy vooruit gestap het en het die NSRI se nommer op ’n kennisgewingbord raakgesien. Hy het van borspyn gekla.

Cornel Wessels, lid van die NSRI in Mosselbaai, wat saam met die groep gehengel het, het intussen sy vriend bereik. Hy het die man se foon geneem en sy simptome aan die NSRI-beamptes beskryf. Hulle het vermoed die man was besig om ’n hartaanval te kry.

’n Man (44) van Mosselbaai het van borspyne gekla kort voordat hy deur ’n Skymed-helikopter vanaf die Robberg-natuurreservaat in Plettenbergbaai na ’n hospitaal gebring is. Foto: Verskaf

Nooddienspersoneel het die man op die toneel behandel en die Skymed-helikopter is ontbied.

Die man is in ’n ernstige, maar stabiele toestand per helikopter na ’n hospitaal vervoer. Dit is bevestig dat hy angina gehad het.

Gedurende dieselfde tyd het ’n egpaar van Duitsland alarm gemaak op die Robberg-staproete toe die vrou haar enkel beseer het. Dit was ’n bietjie minder as ’n kilometer van waar die Mosselbaaise man behandel is. Die vrou het vermoedelik haar enkel verstuit.

Reddingswerkers het die vrou in die reddingsboot die Leonard Smith gelaai en na die NSRI-stasie geneem. Haar man het haar later daar gekry.

Pearly Beach

* Woensdag omstreeks 04:09 is die NSRI-Pearly Beach ook ontbied toe twee hengelaars wat die vorige aand tuis verwag is nadat hulle by Pearly Beach gehengel het, nie opgedaag het nie.

’n Soekgeselskap is uitgestuur. Die mans is tussen Pearly Beach en Franskraal veilig by ’n voertuig gevind.

Volgens die mans het hulle op ’n sloep gehengel toe dit deur branders oorspoel is. Hul motorsleutels het nat geraak en hulle kon nie die voertuig aan die gang kry nie.

Hulle het by die voertuig gebly terwyl hulle reëlings getref het dat iemand hulle kom help toe die NSRI op hulle afgekom het.

Valsbaai

* Woensdag omstreeks 22:00 het die NSRI van Strandfontein, Gordonsbaai en Simonstad ondersoek ingestel nadat rooi noodfakkels langs Valsbaai se kuslyn opgemerk is. Ondanks ’n uitgebreide soektog is geen vaartuie gevind wat in die moeilikheid was nie.

Meer oor:  Reddingspoging  |  Nsri  |  Plettenbergbaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.