Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
2-jarige seun sterf aan leukemie

’n Tweejarige seun van Noordwes is Maandag ná meer as ’n jaarlange stryd teen leukemie dood.

JP Cloete is om 11:33 by sy ouma se huis in Brits dood.

Toe die begrafnisondernemer van Avbob sy liggaam wegneem, wou Matthew de Beer (4) onskuldig weet of dit dan nou Liewe Jesus is wat sopas sy boetie kom haal het.

JP Cloete het Maandag sy stryd teen leukemie verloor. Foto: Verskaf

Die gesin het nog drie weke gelede vakansie gehou in Scottburgh in KwaZulu-Natal, omdat die seuns nog nooit by die see was nie en die ouers geweet het wat op hulle wag.

JP was ernstig siek toe hy in November 2019 in die Charlotte Maxeke-hospitaal in Johannesburg opgeneem is. Na verskeie toetse is leukemie ’n paar weke later by hom gediagnoseer.

JP moes ook van voor af leer loop en praat, nadat hy vroeg in 2020 ’n beroerte in die hospitaal gekry het.

Hy het verlede jaar die meeste van sy tyd in die hospitaal deurgebring en die kere wat hy wel uit die hospitaal ontslaan is, het hy fisioterapie gekry.

Hy het ’n paar maande later uiteindelik weer begin loop en enkele woordjies gesê.

JP Cloete het hard baklei teen al die terugslae wat hy die afgelope jaar gehad het. Foto: Verskaf

Sy ouers, JP Cloete en Beverlee de Beer, het hom hul klein vegtertjie genoem en só het almal wat sy reis gevolg het hom geken.

“As hy in 2020 vir 30 dae by die huis was dan is dit baie,” sê Karin Visagie, ’n familiewoordvoerder.

“Hy het só baklei teen alles dat niks hom kon onderkry nie.”

Ná maande se chemoterapie en ander terugslae het sy ouers in Desember die nuus ontvang dat JP in remissie is.

Die blye tyding was egter van korte duur, want in Februarie moes hulle hoor dat die kanker terug is en oor 85% van sy liggaam versprei het.

Die ouers het ’n afspraak gemaak met ’n ander dokter by die Wits Donald Gordon-hospitaal in Johannesburg vir ’n tweede opinie. Hierdie dokter het egter die ergste bevestig en dat die kanker ook in sy DNS is.

Leukemie is in Novemberr 2019 by JP Cloete gediagnoseer. Foto: Verskaf
JP Cloete het altyd gelag, maak nie saak watter stryd hy gevoer het nie. Foto: Verskaf

“Toe sê sy daar vir Beverlee hy het tussen drie weke en drie maande om te leef,” sê Visagie.

As ’n laaste uitweg het hulle verlede week nog ’n dokter by die Netcare Unitas-hospitaal in Centurion besoek wat vir die ouers gesê het daar is niks meer wat iemand vir hul seun kan doen nie.

JP sou in September drie jaar oud geword het.

“Hy het altyd gelag en dis hoekom ons hom ’n vegtertjie genoem het,” sê Visagie.

“Sy mamma vat dit baie sleg. Haar hart is seer, maar sy is bly hy dans in die hemel sonder pyn.”

’n Roudiens word Saterdag vir JP gehou en die diens sal ook regstreeks op die Facebookblad “Vegtertjie JP Cloete” uitgesaai word.

Meer oor:  Noordwes  |  Brits  |  Kanker  |  Sterf  |  Leukemie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.