Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
2 mans se dood in Upington lei tot oproer oor dwelms
Dorothy Soji, die voogma van Max Speelman, wie se lyk verlede Sondag in ’n sloot digby die woonbuurt Leseding gevind is, vertel oor die gebeure wat ’n paar dae voor sy dood afgespeel het. Foto: Anena Burger

Die dood van twee jong mans, wie se lyke verlede Sondag buite ’n nedersetting naby Upington ontdek is, het tot oproer gelei omdat inwoners dink dwelmhandelaars is daarby betrokke.

Die mans, Tino van Wyk (29) en Max Speelman (24), se lyke is onderskeidelik die oggend en vroegnamiddag op afsonderlike plekke halfnaak in die veld buite Leseding, sowat 10 km buite Upington, gevind

Sers. Omphile Masegela, polisiewoordvoerder, het die voorval bevestig en sê twee geregtelike doodsondersoeke is geopen.

Sy sê die gemeenskap van Leseding was Vrydag in oproer en sê die mans is vermoor.

Kol. Eve April, waarnemende stasiebevelvoerder van die Upington-polisiekantoor, het die gemeenskap toegespreek en hulle ingelig dat die polisie die saak ondersoek. Sy het hulle die versekering gegee dat hulle die saak met integriteit hanteer en probeer vasstel wat die oorsaak van die mans se dood is.

Inwoners van Leseding het Vrydag opgeruk oor die dood van twee jong mans wie se halfnaakte lyke in ’n veld naby dié woonbuurt gevind is. Foto: Verskaf

Dorothy Soji, Speelman se voogma wat hom grootgemaak het, het Sondag gesê haar voogkind het dwelms gebruik. Sy het reeds die Donderdag, voordat sy lyk gekry is, onrustig begin voel. Sy het vroeër met Speelman ’n gesprek gehad oor sy lewe en die dwelms wat hy gebruik.

’n Inwoner het haar uiteindelik ingelig dat Van Wyk se lyk naby ’n kragsentrale in die veld gekry is. Van Wyk was glo net in sy onderklere geklee en sy lyk was na bewering vol grond.

Speelman se lyk is omstreeks 12:30 in die sloot gekry.

Soji het haar na die toneel gehaas en beskryf die toneel as ’n afgryslike gesig.

“Sy een vuis was gebal en die ander hand en sy een been was opgetrek. So asof hy dood is terwyl hy besig was om met iemand te baklei. Sy gesig was heel vertrek.”

Soji sê dit was vir haar vreemd dat Speelman se gesig en bors met grond bedek was en dat daar nie regtig wonde aan sy liggaam was nie, behalwe vir sy een oog wat geswel was.

Van Wyk en Speelman se klere is glo by ’n vriend van die twee mans se huis in ’n kamer gevind.

Soji sê gerugte doen die ronde dat die twee mans vir dwelmskuld vermoor is. Die gerugte het glo veroorsaak dat die inwoners van Leseding Vrydag in ’n parkie vergader het en daarna oproerig geraak het. Die inwoners het geëis dat dwelmhandelaars, wat hulle glo moontlik vir die dood van die mans verantwoordelik kan wees, in hegtenis geneem moet word en die woonbuurt verlaat.

Soji sê die polisie het ingegryp en kol. April het haar gevra om met die gemeenskap te praat.

Soji sê sy het die gemeenskap gevra om rustig te raak omdat sy vrede daarmee gemaak het dat haar voogkind moontlik as gevolg van dwelmmisbruik gesterf het.

“Sy aksies het dalk tot sy dood gelei en ek het die inwoners gevra om ten minste net tot ná sy begrafnis rustig te raak. Ek wil dit nie op my gewete hê dat daar kinders kan wees wie se ouers in hegtenis geneem sal word en hulle dan sonder sorg gelaat sal word nie.”

Soji sê haar hoop is dat die inwoners van Leseding eerder saam met die polisie sal werk om dwelmhandelaars vas te trek en uit die gemeenskappe uit die Noord-Kaap te dryf.

Meer oor:  Upington
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.