Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
2 ma’s, 2 kinders en nuwe pa lol

’n Geskeide lesbiese paartjie van Pretoria is haaks omdat een van hulle ’n verhouding met ’n swart man het en die seuntjie wat hulle saam gehad het aan “bygelowige” godsdienspraktyke blootstel.

Die geskeide paartjie, wat nie geïdentifiseer mag word nie om die identiteit van die minderjarige kinders te beskerm, het volgens hofstukke elk ’n kind gebaar met behulp van ’n spermskenker.

Een van hulle is ’n seuntjie (nou 8) en die ander ’n dogtertjie (6). Tydens een van die swangerskappe het die egpaar aan ’n werklikheidsreeks op kyk­NET deelgeneem.

Sedertdien het een van die ouers, die biologiese ma van die seuntjie, ’n verhouding met ’n man van Hammanskraal, noord van Pretoria, aangeknoop.

‘Ek vermoed ook sy ras speel ’n rol.’

Omdat albei ouers ooreenkomstig hul egskeidingsooreenkoms gedeelde toesig oor die kinders het, het sy die seun dikwels geneem om by haar en haar kêrel op Hammanskraal te gaan kuier.

Haar eks was egter om verskeie redes nie te vinde hiervoor nie en het die hooggeregshof in Pretoria genader om die ma van die seun se kontakregte oor die kinders te verminder.

In hofstukke voer sy aan dat haar eks se nuwe minnaar se “bygelowe” indruis teen die Christelike geloof. Hy is ook ’n lidmaat van die Zioniste-kerk en sy sê dit word van die seun verwag om gebruike van dié kerk te volg wanneer hy daar kuier.

“Dit het gelei tot verwarring oor wat hy mag of nie mag doen nie, soos om spek vir ontbyt by my huis te eet.”

Sy beweer haar eks het reeds in 2015 die verhouding met die Hammanskraal-man aangeknoop. Hulle het hul huwelik probeer red, maar haar vrou wou nie van haar buite-egtelike verhouding afsien nie.

“Ek was altyd versigtig om uitgebreide kontak tussen die kinders en (die man) toe te laat,” lui die seuntjie se biologiese ma se hofstukke. “Ek weet nie aan watter swaarkry die kinders (in Hammanskraal) blootgestel gaan word nie.”

Sy het foto’s wat van die seun in Hammanskraal geneem is, by die hof ingedien – een waar hy op ’n stowwerige werf rondhardloop.

Sy beweer die man is kort van draad en is bevooroordeeld teenoor homoseksuele mense.

“Ek het ’n redelike vrees dat hy die kinders kan verwar oor hul familiestruktuur.”

Sy sê die kinders se beste belange word nie gedien deur hul ander ma se sporadiese kontak met hulle en die teenwoordigheid van haar nuwe kêrel nie.

Haar voormalige eggenoot sê haar nuwe man, wat ’n petroljoggie was toe sy hom ontmoet het, “het haar na God gelei”.

Sy het in 2017 geboorte gegee aan sy dogtertjie. Sy sê hy is “net goed” vir haar, haar agtjarige seun en hul babadogtertjie.

Haar seun noem hom pappa en hy is “uiters gelukkig in sy teenwoordigheid”.

“Daar is geen rede om my kontak met ons kinders te beperk weens ’n irrasionele vrees vir (die man) nie.”

Haar lewensmaat het ’n gerieflike huis met behoorlike sanitasie, water en krag in Hammanskraal. Hy is geensins bevooroordeeld teenoor homoseksuele mense nie.

“Daar is homoseksuele mense in sy familie en hy is lief vir hulle.”

Van haar kollegas by die werk het voorgestel sy neem die seun na Moria sodat mense vir hom kan bid.

“Die enigste vereiste was dat (hy) vir ses maande moes ophou om varkvleis te eet.”

Sy sê sy dink haar eks maak ongegronde stellings oor die man, “want sy is nog kwaad en seergemaak deur my verhouding met hom. Ek vermoed ook sy ras speel ’n rol in haar woede en wantroue teenoor hom.”

Uiteindelik het waarnemende regter John Holland-Müter beveel dat die applikant die kinders se primêre versorger sal wees. Haar eks mag die kinders elke tweede naweek vir vier uur op ’n Saterdag en vier uur op ’n Sondag onder toesig sien.

Albei ouers moet die plek waar die besoek sal plaasvind en die toesighouer goedkeur. As hulle nie saamstem oor wie die toesighouer is nie, sal ’n kurator die toesighouer aanwys.

Meer oor:  Egskeiding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.