Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
2 tuis 80 dae ná brugramp by skool

Twee meisies aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark wat van die ergste beseer is toe ’n loopbrug in Februarie by die skool ineengestort het, is bykans 80 dae ná die tragedie terug by hul huise.

Vier leerlinge is dood toe ’n sementblok van die loopbrug, wat twee skoolgeboue verbind, op 1 Februarie ingeval het. Meer as 20 leerlinge is ernstig beseer.

Vanessa Slabbert (18), Saterdag by Gold Reef City in Johannesburg. Foto: Facebook

Vanessa Slabbert (18), ’n gr. 12-leerling, was weke in die waakeenheid van die Netcare Unie-hospitaal in Alberton. Sy het onder meer haar pelvis gebreek en haar rug beseer. Sy moet steeds met ’n rolstoel oor die weg kom, maar is kort voor die Paasnaweek uit ’n rehabilitasiesentrum in Johannesburg ontslaan.

Sy het Saterdag ’n pretdag saam met haar gesin by Gold Reef City in Johannesburg geniet.

Lizelle Slabbert, haar ma, sê daar lê nog ’n baie lang pad na herstel voor vir haar dogter. Vanessa sal vandeesweek as ’n buitepasiënt by die rehabilitasiesentrum in Johannesburg behandeling kry.

“Sy moet ook vir traumaberading gaan omdat sy erge nagmerries kry en aan posttraumatiese stressindroom ly,” sê Lizelle.

Vanessa kan al met krukke loop, maar nie sonder die hulp van ’n terapeut of haar ma, wat opleiding moes kry om haar dogter te versorg nie.

Cheverné Duvenhage (13) is uit 'n rehabilitasiesentrum in Johannesburg ontslaan. Foto: Facebook

Cheverné Duvenhage (13), ’n gr. 8-leerling, is Donderdag uit die rehabilitasiesentrum waar sy behandel is, ontslaan. Sy het verskeie inwendige beserings opgedoen en moes etlike operasies aan haar maagwand, wat beskadig is, in die Netcare Unie-hospitaal in Alberton ondergaan.

Nicola Senekal, haar ma, het Donderdag op Facebook geskryf: “Dit is dag 77 en nie net is dit my gelukkigste dag nie, maar ook my emosioneelste (sic) dag.”“As mens so lank deel was van hospitale en dokters dan word dit deel van ’n ander wêreld en mens begin aanpas by dit. En wanneer mens dit verlaat kan mens nie help om so bietjie hartseer te voel nie.”

Senekal sê hoewel Cheverné nie terug hoef te gaan rehabilitasiesentrum toe nie, is dit nog nie die einde van dokters en fisioterapeute nie.

“Mense vra hoe ons tot hier gekom het en daar is nie antwoorde nie. Mens is in ’n ‘survival mode’ en ek moet eerlik sê dit voel of ons nou die maskers kan afhaal en begin normaal wees.”

Shamoné Steynvaart (14) in die rehabilitasiesentrum by die Muelmed-hospitaal in Pretoria. Foto: Facebook
Vanessa Slabbert saam met haar broer, Kyle, en ma, Vanessa Slabbert. Foto: Facebook

Cheverné gaan nou vir ses weke fisioterapie ondergaan en oor twee weke sal sy ’n opvolgbesoek by die rehabilitasiesentrum hê.

Volgens Senekal sal dokters in Augustus besluit wanneer die rekonstruksie van haar maagwand gedoen sal word.

“Ons waardeer elke mens wat ons ondersteun het en sê 'dankie, dankie, dankie' vir al die gebede,” sê Senekal.

Shamoné Steynvaart (14), ’n gr. 9-leerling, is van haar onderlyf af verlam ná die brugtragedie.

Charmaine Steynvaart, haar ma, sê sy vorder goed in die Mediclinic Muelmed se spinale rehabilitasiesentrum in Pretoria.

“Sy werk baie hard en is ’n inspirasie vir baie mense. Ek is supertrots om Shamoné as my dogter te kan hê.”

Shamoné sal moontlik op 8 Mei ontslaan word. “Dan kan ons lewens begin,” sê Charmaine.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.