Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
2 van laaste 4 sprekers van oudste taal sterf

Twee van die laaste vier sprekers van die oudste erkende taal in Suid-Afrika, N|uu, is kort ná mekaar in Upington dood.

Ouma Griet Seekoei (87) is Vrydag, sowat ’n maand ná haar oudste suster, ouma Hanna Koper (100), dood.

Twee van die laaste vier sprekers van Suid-Afrika se oudste taal is kort ná mekaar dood. Links is ouma Katrina Esau (86) saam met haar susters, ouma Hanna Koper (100), wat op 28 Maart gesterf het, en ouma Griet Seekoei (87), wat Vrydag dood is.

Net die drie susters en broer, ouma Hanna, ouma Griet, ouma Katrina Esau (86) en hul broer, oupa Simon Sauls (77), kon nog die N|uu-taal vlot praat.

David van Wyk, familiewoordvoerder, sê die dood van die susters los ’n geweldige leemte.

“Hulle was biblioteke van kennis. Aangesien hulle ouer as ouma Katrina was, was hulle haar go-to girls as sy vasgedraai het met ’n woord wat sy nie meer kon onthou nie.”

Ouma Katrina, wat haar oor die jare heen beywer het om N|uu van uitsterwing te red, is in April 2014 met Suid-Afrika se hoogste orde, die Orde van die Kremetart, vereer.

Saam het die drie susters geveg om Suid-Afrika se oudste San-taal te laat voortleef.

’n Projek is in Februarie begin om met behulp van die Pan-Suid-Afrikaanse Taalraad (Pansat) en Briza Publikasies ’n oudiovisuele woordeboek saam te stel.

“Die dood van haar susters het ouma Katrina hard getref. Hulle was baie geheg en hul grootste droom was net om die taal te laat voortleef.”

Van Wyk sê ouma Griet, wat gedeeltelik blind was, het haar nie deur haar gestremdheid laat kortwiek nie.

“Dit spreek so baie van haar karakter. Sy was daarop gefokus om die taal te laat voortleef en haar insette en bydraes het weer deure geopen wat ons gedink het vir ewig gesluit was. Sonder haar en ouma Hanna sou ons nie oor die jare die vordering kon maak wat ons het nie,” sê Van Wyk.

Daar is vir ons gesê dit klink lelik en daarom wou ons dit nie meer praat nie.

Die sussies en boetie het in hul kinderjare op ’n plaas in die Kalahari grootgeword. Ouma Katrina het in vroeëre onderhoude vertel dit was hier waar die boere hulle ontmoedig het om hul taal te praat.

Sy sê dit is hoe baie San-tale verlore gegaan het.

“Daar is vir ons gesê dit klink lelik en daarom wou ons dit nie meer praat nie.”

Haar heimwee na haar moedertaal het haar genoop om sprekers van die taal op te spoor. Dit was nie maklik nie en dit het baie gekos om sprekers te oortuig dat hul erfenis noodsaaklik is vir die voortbestaan van die San-kultuur.

Met behulp van ouma Hanna en ouma Griet het ouma Katrina uiteindelik ’n skooltjie, die Staar na die Sterre-skool, in Upington geopen vir kinders wat graag weer die N|uu-taal wou leer.

“Almal is hier welkom. Ons deel graag ons erfenis met enige kind,” het ouma Katrina by geleentheid gesê.

Van Wyk sê ouma Hanna en ouma Griet se nalatenskap is van onskatbare waarde en hy hoop hul kosbare werk kan voortgesit word.

Meer oor:  Upington  |  Sterf
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.