Die polisie in Mdantsane in die Oos-Kaap het twee verdagtes Woensdag in hegtenis geneem nadat een onwettige drank in die vroeë oggendure verkoop het.
Een van die verdagtes is in hegtenis geneem, terwyl die polisie die tweede verdagte aangeraai het om homself aan die polisie te oorhandig nadat hulle die Rampsbestuurswet oortree het.
Brig. Tembinkosi Kinana, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, sê een van die verdagtes is ’n bestuurder van ’n bekende drankwinkel in Mdantsane wat glo drank in die vroeë oggendure verkoop het.
“Ons het ondersoek ingestel nadat ons ’n wenk ontvang het, en uitgevind die verdagte verkoop wel drank aan klante in die vroeë oggendure. Die drank is voor 05:00 in die oggende in private voertuie gelaai,” sê Kinana.

Twee verdagtes is vas wat glo drank onwettig verkoop het. Foto: Unsplash
Die polisie het die verdagtes genader, waarna die bestuurder erken het dat die drankwinkel drank aan onbekende mense verkoop.
’n Lasbrief is bekom, waarna die polisie op fakture in die winkel afgekom het.
Dié fakture het glo bewyse gehad dat drank onwettig tussen 31 Desember en 13 Januarie verkoop is terwyl daar ’n verbod op die verkope van drank was.
Kinana sê die verdagtes is ook daarvan aangekla dat hulle nie tydens die aandklokreël in hul wonings was nie. Hulle is ook aangekla omdat hulle nie maskers gedra het nie.
Die twee verdagtes (38 en 39) moet op 9 Februarie in die landdroshof in Mdantsane verskyn met die opsie om ’n R10 000-boete te betaal.
Die polisie sê die drank wat verkoop is, se waarde is sowat R66 700.
Die polisie is ook op die spoor van mense wat die onwettige drank by die drankwinkel gekoop het.