Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
20 000 mense smeek elke uur: Waar’s my R350?

Sassa het sedert Mei sowat 3,4 miljoen bankrekeninge by die Posbank geopen in die naam van mense wat die spesiale Covid-19-oorlewingstoelae moet kry.

Maar die Posbank kry nou soveel navrae van mense wat om dié toelae aansoek gedoen het dat die bediener van die Posbank se inbelsentrum die laaste paar dae verskeie kere oorlaai is.

“Die Posbank se inbelsentrum het vroeër sowat 200 oproepe per uur hanteer. Dit het nou weens die Covid-toelae toegeneem tot 20 000 oproepe per uur. Dis geen wonder dat hulle dit nie kan hanteer nie,” het Totsie Memela, uitvoerende hoof van Sassa, Saterdag gesê.

‘Betalings sal nou vinniger gebeur.’

Sassa se eie inbelsentrum het voor die instel van dié toelae sowat 10 000 oproepe per dag hanteer.

Dit is nou 40 000.

“Ons kan dit nie hanteer nie en het besluit om die oproepdiens vir die spesiale toelae uit te kontrakteer.

“Dit sal binne die volgende week tot tien dae in werking tree,” het Memela gesê.

Tot dusver moes elkeen wat die toelae kry, ook ’n bankrekening hê en daarom het Sassa die rekeninge by die Posbank namens hulle geopen.

Memela sê ook die departement het uiteindelik ooreenkomste met die vier groot banke gesluit om die geld via selfoon-deposito’s te kan betaal. Die tesourie het goedkeuring daarvoor gegee.

Memela was uitvoerende hoof van die Posbank voordat sy in Mei 2019 as uitvoerende hoof van Sassa aangestel is.

Sy het in Mei vanjaar, kort voor die instel van die oorlewingstoelae, ’n voorstel van die hand gewys – wat gemaak is deur ’n taakspan van die Reserwebank en Bankserv – om ’n vinnige betaalmeganisme vir die spesiale toelae te skep.

Dit was van meet af aan belangrik dat die toelae van R350 per maand, waarvoor net werkloses kwalifiseer wat geen ander staatstoelae kry nie, so vinnig en doeltreffend moontlik uitbetaal word om voedselgebrek by miljoene mense te keer.

Die taakspan wat die lewensvatbaarheid van die plan in Maart en April deurtastend ondersoek het, het bevind dat tussen 8 miljoen en 12 miljoen mense daarvoor kwalifiseer en dit dringend nodig het. Dié getal kan so hoog wees as 15 miljoen.

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdagaand gesê tot dusver is 4,4 miljoen aansoeke vir die toelae goedgekeur en R2,2 miljard is reeds uitbetaal.

“Daar was vertragings met die betalings, maar toekomstige betalings sal vinniger gebeur noudat die nodige stelsels ingestel is. Die toelae sal vir ses maande betaal word, soos vroeër aangekondig is,” het hy gesê.

Rapport se bronne, wat senior personeel van die Posbank insluit, sê egter Sassa, wat die toelae uitbetaal, behoort ’n spesiale inbeldiens daarvoor te vestig.

“Ons word oorval met navrae van die publiek. Dis meestal mense wat aansoek gedoen het vir die toelae en wil weet of dit toegestaan is en waar hulle geld daarvoor kan opeis.

“Maar ons kan hulle nie help of enige antwoorde vir hulle gee nie.

“Dis alles inligting wat Sassa het.

“Die nommer van die algemene Sassa-oproepsentrum werk ook nie – waarskynlik omdat hulle te veel navrae ontvang,” het Rapport se bron gesê.

’n Ontleder van die finansiële- dienstesektor wat nie geïdentifiseer wil word nie, wys daarop dat die ANC al lank maniere probeer bedink om mense te bereik wat nie ’n bankrekening het nie.

“Dis die dryfkrag agter die skepping van ’n staatsbank. Die probleem is egter dat die begunstigdes van die spesiale Covid-19-toelae die rekening net vir ses maande gaan gebruik en dit boonop net as transmissie-rekening gaan gebruik om hul geld te trek,” het die bron gesê.

“As dit die geval is, is die skepping van 4 miljoen bankrekeninge geen kommersiële bate nie. Dis in werklikheid ’n las, want die koste om die rekeninge te administreer gaan nogal hoog wees,” het die bron gesê.

Meer oor:  Totsie Memela  |  Toelaes  |  Covid-19  |  Posbank  |  Sassa  |  Covid-Toelae
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.