Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
20 jaar en 2 hofbevele later het hul nog nie Hop-huise nie

Arm inwoners van die Winnie Mandela-plakkerskamp in Tembisa het al twee hofbevele in die hand wat sê die staat moet vir hulle huise bou waarvoor hulle amper 20 jaar gelede al gekwalifiseer het.

Maar nie ’n enkele huis is al gebou nie.

Johanna Thubakgale staan hier in die deur van haar
Johanna Thubakgale staan hier in die deur van haar sinkkamer. Buite was haar dogter, Beauty, skottelgoed en die kleinkinders, Alexander en Bennett, drink tee. Foto’s: Elizabeth Sejake

Dié 133 keelvol gesinne, wat steeds in sinkhutte woon, het in die laat 1990’s vir staatsbehuisingsubsidies gekwalifiseer, maar toe die staat tien jaar gelede steenhuise bou, het ander mense dit gekry.

Die Instituut vir Sosio-ekonomiese Regte (Seri) vra nou namens die gesinne die hooggeregshof in Pretoria om R5 000 grondwetlike skadevergoeding aan elke gesin toe te ken vir elke maand wat ná Julie vanjaar verloop totdat hulle uiteindelik hul Hop-huise in Tembisa se uitbreiding 25 kry.

Die Ekurhuleni-metroraad vra egter uitstel tot 30 Junie 2020 om die huise te “verskaf”, en dan nóg ’n jaar om dit te “voltooi en te oorhandig”.

‘Eienaardig genoeg” ontken die metro bedrog.

Die aanvanklike sperdatum vir die oorhandiging van die huise was 31 Desember 2018, volgens ’n bevel wat regter Mmonoa Teffo in 2017 in die hooggeregshof in Pretoria verleen het. Die metro het by die appèlhof uitstel gekry tot 30 Junie vanjaar. Maar steeds is geen huis gebou nie.

Lebogang Maile, Gautengse LUR vir menslike nedersettings en stadsbeplanning, het Donderdag gesê die 133 beswaardes moes “eers met ons kom praat het”, pleks van om die hof vir grondwetlike skadevergoeding te vra. Hy sê die howe moet die laaste uitweg wees.

Met Rapport se besoek Vrydag aan die Winnie Mandela-nedersetting het die halfblinde Johanna Thubakgale (61) gesê sy het alle hoop verloor dat hulle huise gaan kry. Dié Sionis, wat elke jaar na die Moria-saamtrek gaan, sê: “God help, maar dis mense wat teleurstel. Mense het nie die waarheid in hulle nie.”

Agnes en Ezekiel Manaka woon steeds in hul sinkhut in sone 4 van die Winnie Mandela-plakkerskamp in Tembisa, maar hulle het jare gelede al vir ’n Hop-huis van die staat gekwalifiseer.

Thubakgale is een van die 133 begunstigdes, maar sy woon saam met haar sewe familielede in drie sinkstruktuurtjies op een erf. Haar jongste kleinkind is ses maande oud. Hulle leef van staatstoelae.

Blink sonskerms, wat gewoonlik binne motors se voorruite gesit word, is teen die sinkmure geplak vir isolering. Dit stof ook makliker as sink af, sê hulle.

*, voorsitter van die Ekurhuleni Concerned Resident Association (Ecra), sê die Winnie Mandela-groep is beter daaraan toe as sekere ander buurte in die omgewing wat nie eers krag, water en chemiese toilette het nie.

In ’n hut in sone 4 van Winnie Mandela het Mathoto Manaka (10) Vrydagoggend grootoog die Australiese fliek The Eye of the Storm op die iFilm-kanaal op TV sit en kyk. Haar ma, Agnes, het mank in hul kombuisie geloop om ’n baksel brood vir die dag te maak. Agnes kry ’n ongeskiktheidstoelaag by die staat weens ’n gebrek aan haar been.

Die Manaka-gesin se sinkhuis.

Haar man, Ezekiel, sê hulle volg die hofsake wat Seri namens hulle bring, maar hulle wonder hoe lank hulle nou weer gaan moet wag voor die steenhuise kom.

Uitbreiding 25, waarheen hulle uiteindelik sal trek, is gelukkig net ’n klipgooi ver.

Seri het in ’n verklaring gesê die HOP-huise is destyds deur bedrog aan ander mense toegeken.

Die hooggeregshof het in 2017 bevind die Ekurhuleni-metro het die 133 gesinne se grondwetlike reg op behuising geskend en dat die metro “konstante vertragingstaktieke” inspan.

Dit was nadat die inwoners die hof gevra het om die metro en die departement van menslike nedersettings te dwing om stappe te doen om hulle eienaarskap oor die grond te gee.

Teffo het toe gesê “eienaardig genoeg” ontken die metro bedrog of nalatigheid.

Ekurhuleni sê in sy nuutste hof­aansoek onvoorsiene omstandighede het meegebring dat nie by die spertyd gehou kon word nie, soos ’n nuwe stadsbeplanningsproses en ontwrigting op die bou­terrein deur die Tembisa-sakeforum.

Die ontwikkeling se straatuitleg moes ook verander om heelwat meer huise toe te laat.

Die metro sê hy het nog die heeltyd sy grondwetlike verantwoordelikheid aanvaar om behuising te verskaf. Die geskil was net oor die tydraamwerk. Hy sê die 133 gesinne is in die eerste boufase van 500 eenhede ingedeel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.