Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
22 jaar ná seun sterf word ma eindelik vergoed

22 jaar nadat haar soldaatseun gelos is om te “vergaan”, het geregtigheid uiteindelik vir ’n Kaapse ma begin geskied.

Die 70-jarige Paulina Pietersen sê sy het haar hart oor jare heen in dié voorkamer uitgehuil vir antwoorde oor haar seun se dood. Foto: Edrea du Toit

Paulina Pietersen en haar man, Andrew, wat intussen dood is, het hul seun, Daniel, op 2 Februarie 1998 by die bushalte in Adderleystraat, Kaapstad, gaan afsien.

Hy was ’n luitenant op 9 SAI-militêre basis in Faure naby Somerset-Wes.

24 uur later was hy dood.

Daniel het tydens ’n oefening in volle mondering in die bloedige hitte in Oudtshoorn inmekaargesak. Hy is later in die hospitaal in George dood.

Die 70-jarige Pietersen raak bewoë as sy oor haar stryd praat. Sy woon in die Nooitgedacht-buurt tussen Bishop Lavis en Valhallapark op die Kaapse Vlakte.

Die familie het met hul eie ondersoek vasgestel Daniel het die middag omstreeks 13:00 ineengestort.

Hulle het hom in die veld ‘gemaklik gemaak’, hom eintlik laat vergaan.

“My seun het lank daar in die son gelê. Dit was volgens ’n weerverslag tussen 30 en 35 ° (Celsius). Sy kollegas het gesê hy het ‘hittesteek’ gekry. Hulle het hom daar in die veld ‘gemaklik gemaak’, hom eintlik laat vergaan in die veld.

“Iemand het glo gesê: ‘Los hom, hy’s unfit.’ Teen 15:30 toe lê my seun nog daar, tot ’n lid hom in ’n bakkie laai en na die siekeboeg gevat het. Hulle moes hom natmaak, dadelik hospitaal toe geneem het!”

Eers 17:30 is hy na die hospitaal geneem en van daar na die Lamprecht-kliniek in George. ’n Dokter het Pietersen die aand gebel en sy is dadelik George toe.

Daniel was in ’n koma. “Ek het na hom gekyk. Hy lyk soos ’n toestand wat ek hom nie wil kyk nie.” Dokters het haar meegedeel haar seun is dood.

Pietersen sê sy het sedertdien duisende rande aan regskoste betaal in ’n poging om die weermag te dwing om die familie se vrae te beantwoord.

Haar broer, Sammy Madzime van Atlantis, sê hy het oor die jare heen by die weermag, polisie en tot selfs die presidensie gaan aanklop.

“Ek het 16 jaar geveg om die saak lewendig te hou. Ek het verslae aan die nasionale én die provinsiale parlement geskryf, met Thuli Madonsela (die vorige openbare beskermer – OB) en haar advokate vergaderings gehad. Ek het baie druk op hulle gesit.”

Verlede naweek het hy sy suster gebel: “Sussie, ons het goeie nuus gekry . . .”

Sy het die afgelope week ’n verslag, gedateer 6 Februarie 2020, van die huidige OB, adv. Busisiwe Mkhwebane, ontvang. Daarin gelas Mkhwebane dat die polisiehoof, genl. Khehla Sitole, weermaghoof, genl. Solly Shoke, asook die kommissaris van die Vergoedingsfonds binne 30 dae om verskoning vra vir die vertragings.

Die polisie se beleid oor hoe om families op hoogte van sake te hou van hoe hul ondersoeke vorder, moet aangepas word en die Vergoedingsfonds, wat betaal vir beserings of sterftes aan diens, moet die eis uitbetaal. Die bedrag is nog nie vasgestel nie.

Mkhwebane het bevind verskeie grondwetlike regte van die familie is geskend. Die polisie het die familie nie op hoogte gehou van hoe die ondersoek vorder nie. Hoewel die polisie se huidige staande orders hulle nie verplig om dit te doen nie, is daar wel ’n redelike verwagting dat hulle dit sou doen.

Mkhwebane sê voorts die weermag moes die familie meegedeel het wat sy raad van ondersoek bevind het. Die weermag het nie die eis aan die Vergoedingsfonds binne die voorgeskrewe sewe dae ingedien nie. Volgens Mkhwebane het die Vergoedingsfonds die verwerking van die eis onnodig vertraag, wat neerkom op wanadministrasie.

Pietersen sê sy is bly oor die bevindinge, maar nou hoop sy en haar broer dit word wel uitgevoer.

“Ek gaan die 30 dae aftel en as daar nog geen verskoning kom nie, is ek weer op hul case, al moet ek nog 20 jaar wag,” beloof Madzime.

Meer oor:  Busisiwe Mkhwebane  |  Soldaat  |  Vergoeding
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.