Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
225 000 te veel van julle!

Sowat 225 000 staatsamptenare wat nog nooit vroeër by die koppetelling van die staatsdiens ingereken is nie, is aangestel met vastetermynkontrakte vir tydperke van een tot vyf jaar.

Net meer as 80% werk in provin­siale departemente. Dit verhoog die koppetelling in die staatsdiens van net minder as 1,23 miljoen volgens die syfers wat die nasionale tesourie in sy jongste begrotingsoorsig rapporteer, tot 1,39 miljoen, volgens antwoorde wat die departement vir die staatsdiens en administrasie aan die parlement verskaf het.

Volgens die jongste begrotingsoorsig is daar tussen 850 000 en 900 000 amptenare op die betaalstate van provinsiale regerings, maar volgens die departement vir die staatsdiens en administrasie is daar 1,018 miljoen, blyk uit ’n antwoord wat die minister, Senzo Mchunu, verlede maand aan dr. Leon Schreiber, DA-woordvoerder oor die staatsdiens, verstrek het.

“Dit beteken daar is meer as 200 000 staatsamptenare waarvoor nie begroot is nie,” sê Schreiber.

Salarisse slurp reeds 35% van uitgawes op.

Prof. Richard Levin, direkteur-generaal vir die staatsdiens en administrasie, het gesê die syfers verskil weens bykomende aanstellings met vastetermynkontrakte van tussen een en vyf jaar. Hulle is nie lede van die staatsdienspensioenfonds of die mediese fondse in die staatsdiens nie. Die vergoeding van staatsamptenare slurp reeds meer as 35% van die staat se uitgawes op.

’n Topamptenaar in een van die grootste nasionale departemente het aan Rapport gesê daar is reeds drie jaar lank ’n bevriesing op enige aanstellings in poste wat vakant raak. “Dit beteken ons moet in baie gevalle sonder uiters noodsaaklike personeel klaarkom, maar in die provinsies is die afgelope 20 jaar allerhande instellings met staatsgeld geskep. Van hul werk oorvleuel met dié van ander departemente. Alle nasionale departemente is gewaarsku oor ernstige besnoeiings van minstens 5% wanneer die mediumtermynbegroting bekend gemaak word.

“Die besonderhede daarvan word in die kantoor van Jackson Mthembu, minister in die presidensie, uitgewerk en ek verstaan dis eintlik reeds afgehandel. Ons verkeer almal onder groot spanning daaroor. Dít terwyl besteding in die provinsies buite beheer is,” het die amptenaar gesê op voorwaarde dat hy nie geïdentifiseer word nie.

Die dilemma is Woensdag geïllustreer toe Statistieke Suid-Afrika (SSA) sy jaarverslag in die parlement voorgelê het. Risenga Maluleke, die statistikus-generaal, het gesê SSA het sedert 2016 geen aanstellings gedoen nie, al is 17,3% van die poste in die organisasie vakant – só erg is sy begrotings besnoei.

“Ons kan binnekort in ’n posisie wees waar ons nie meer akkurate syfers oor die groei in die Bruto Binnelandse Produk, die land se amptelike ekonomiese groeikoers, kan produseer nie,” het hy gewaarsku.

SSA lewer sedert 2015 nie meer amptelike armoedesyfers nie. Hy sal dalk ook binnekort die publikasie van die kwartaallikse arbeidsmarkpeiling, die land se amptelike werkloosheidskoers, moet staak.

Statistici is internasionaal in aanvraag. Van sy vaardigste personeel is deur internasionale personeelwerwers afgerokkel, het Maluleke gesê.

In die vorige mediumtermynbegrotingsraamwerk ’n jaar gelede, toe buitensporige salarisverhogings tot ’n tekort van R30,2 miljard op die begroting gelei het, het Ismail Momoniat, adjunk-direkteur-generaal van finansies, gesê dit is vir ’n nasionale departement moontlik om tot 8% van sy kapitaalrekening rond te skuif bloot omdat die geld onaktief in bankrekenings lê, maar hulle moet aan die parlement daaroor verslag doen. “Die provinsiale departement het baie meer vryheid om sulke geld rond te skuif as die nasionale departemente,” het Momoniat destyds gesê.

Ian Stuart, waarnemende hoof van die begrotingskantoor in die parlement, het destyds gesê meer as 80% van die R30,2 miljard sal in die provinsiale gesondheidsdepartemente en provinsiale onderwysdepartemente gevind moet word, want elders is daar geen ruimte vir besnoeiing nie.

Meer oor:  Senzo Mchunu  |  Leon Schreiber  |  Staatsdiens  |  Staatsamptenare
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.