SPESIALE VAKANSIE-AANBOD: Teken in teen net R49 vir jou eerste maand! Word 'n intekenaar
Algemeen
26 dood op O-Kaapse paaie
Die wrak van die passasiersbus wat Saterdagaand by Sugarbush in die Oos-Kaap langs die N2 afgerol het. Foto: Verskaf

Minstens 26 mense, onder wie ’n baba van nege maande oud, is die afgelope naweek op Oos-Kaapse paaie dood.

Die provinsiale departement van vervoer en veiligheid sê in ’n verklaring dronk- en roekelose bestuur, nalatigheid, asook menslike foute, is van die hoofredes wat tot die dood van die mense gelei het.

Weziwe Tikana-Gxothiwe, die Oos-Kaapse LUR vir vervoer en veiligheid, het Maandagoggend gesê dit was ’n swart naweek op die provinsie se paaie.

“Dit is skokkend om so baie lewens op die manier te verloor,” het Tikana-Gxothiwe gesê.

Insleepdienste het Sondag gehelp om die wrak van die passasiersbus by die ongelukstoneel weg te sleep. Foto: Verskaf

Sy sê sake van strafbare manslag is vir elke noodlottige padongeluk geopen. Die skuldiges sal aanspreeklik gehou word.

“Belangrike bewyse, soos dié van bloedmonsters, is versamel in gevalle waar dronkbestuur vermoed word. Dit sal gebruik word wanneer die sake (in die hof) aangehoor word.”

Volgens die departement is 16 passasiers, vyf bestuurders en vyf voetgangers dood.

Een van hulle het ’n passasiersbus bestuur wat Saterdagaand met 25 passasiers van Durban na Kaapstad op pad was.

Die bestuurder het omstreeks 23:00 op die N2 naby Sugarbush, net buite Mount Ayliff, beheer oor die bus verloor.

Volgens Sizwe Kupelo, woordvoerder vir die Oos-Kaapse departement van gesondheid, het die bus sowat 200 m teen ’n skuinste afgerol tot in ’n vlak rivier.

Drie mense, onder andere die bestuurder, was in die wrak vasgekeer. Noodpersoneel het meganiese toerusting gebruik om die vasgekeerde mense te bevry. Die twee passasiers het oorleef, maar die bestuurder is dood.

Die res van die passasiers is nie ernstig beseer nie.

Tikana-Gxothiwe het motoriste Maandag gewaarsku om waaksaam te wees en alle padreëls te gehoorsaam in die besige feestydperk wat voorlê.

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Sterftes  |  Ongeluk  |  Paaie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.