Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
273 kinders in 5 maande slagoffers van mishandeling

Die 273 gevalle van kindermishandeling wat in die eerste vyf maande van die jaar in die Wes-Kaap aangemeld is, is net die oortjies van die seekoei.

Volgens die Rooikruis-kinderhospitaal is dié kinders almal slagoffers van mishandeling, verwaarlosing en geweld.

Die provinsiale departement van gesondheid het die statistieke Woensdag in die lig van Kinderbeskermingsweek bekend gemaak.

Luidens ’n verklaring wat deur die departement uitgereik is, is daar bevind dat 42% van alle Suid-Afrikaanse kinders reeds die een of ander vorm van mishandeling ervaar het.

Dit kan volgens die Optimus National Prevalence-studie ingedeel word in fisieke mishandeling (een uit drie kinders; seksuele mishandeling (een uit drie kinders); emosionele mishandeling (een uit vier kinders); en verwaarlosing (een uit vyf kinders).

Baie van die kinders wat by die Rooikruis-kinderhospitaal behandel word, ervaar meer as een vorm van mishandeling. Die hospitaal behandel kinders wat onder meer geskiet, gebrand, geslaan, verwaarloos en seksueel aangerand is.

Luidens die verklaring word kinders mishandel in plekke waar hulle veilig moet voel soos by hul huise, skole en op die speelterrein. Die mense wat hulle seermaak, is ook in die meeste gevalle mense wat hulle ken en vertrou.

Die studie toon ook dat een uit drie seuns en meisies seksueel mishandel is, maar dat net ’n derde van hulle om hulp vra.

Die gevolge van mishandeling kan ’n leeftyd duur en dit is belangrik om op ’n vroeë ouderdom in te tree. Kinders wat op ’n jong ouderdom aan mishandeling en geweld blootgestel word, sal meer geneig wees om ook so op te tree as hulle ouer is.

“Daar moet nie net een keer ’n jaar nie, maar permanent op kinderbeskerming gefokus word. Gemeenskappe moet beveilig en maatskaplike probleme gepak word,” sê Alan Winde, premier van die Wes-Kaap, in die verklaring.

Daar moet nie net een keer ’n jaar nie, maar permanent op kinderbeskerming gefokus word.

“Programme moet ontwikkel word waar kinders opgevoed word en waardeur hulle beskerm word.”

Winde moet nog die provinsie se eerste kinderkommissaris aanstel nadat dit einde Maart in die Staatskoerant aangekondig is.

Dr. Nomafrench Mbombo, Wes-Kaapse LUR vir gesondheid, het ’n beroep op dokters, verpleegsters, onderwysers en gemeenskaplede gedoen om kinders te beskerm.

Die provinsiale regering het verskeie programme wat op kinders fokus. Meer as 80 000 jeugdiges het in die afgelope jaar aan dié programme deelgeneem, lui die verklaring.

Uit die 273 gevalle van mishandeling is:

* 88 kinders fisiek mishandel;

* 66 verwaarloos;

* 45 seksueel mishandel;

* 18 deur honde gebyt;

* 17 geskiet;

* 11 wat die gevaar loop om mishandel te word;

* 22 gebrand; en

* 6 vondelinge.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.