Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
2de lyk uit riooldam by Wesselsbron gehaal
’n Polisielid haak die kabels los waarmee die lyk uit die riooldam getrek is.Foto’s: Alet van der Walt

Die soektog na ’n munisipale werker wat Maandagoggend deur sy vrou as vermis aangemeld is, het Dinsdagoggend tot ’n einde gekom toe sy voertuig en sy lyk in ’n riooldam buite Wesselsbron in die Vrystaat gevind is.

Jeremia Vuyisile Nikili (53) se lyk het Dinsdagoggend op die onderstel van sy Volvo S40 in die dam gelê. Die Volvo het op sy dak in die dam gelê.

Nikile se vriendin, Seitatolo Sisinyi (39), se lyk is Maandagoggend gevind waar dit op die riooldam gedryf het. Spore het daarop gedui dat ’n voertuig in die dam ingery het.

Die Nala-munisipaliteit het Maandagmiddag begin om die riooldam leeg te pomp in die soektog na Nikile.

Nikili is op Vrydag 23 Junie laas lewend gesien. Hy en Sisinyi het volgens omstanders gereeld by die rioolplaas, waar hy gewerk het, in sy voertuig gekuier.

Polisieduikers van Bloemfontein en Welkom en lede van die polisie se soek-en-reddingseenheid was sedert Maandag by die riooldam teenwoordig. ’n Suigpomp is by Sedibeng Water geleen om die dam leeg te pomp. Later is ’n tweede pomp van die Nala-munisipaliteit herstel en ook ingespan om die dam leeg te pomp. Die dam is deur die nag leeggepomp en Dinsdagoggend vroeg het polisielede met hul terugkeer na die rioolplaas die voertuig gesien. Nikili se lyk het op die agterkant van die onderstel van die Volvo gelê.

’n Kombers en bierbottels het uit die motor gekom waarin Nikile en sy vriendin hul laaste ure saam deurgebring het.

Lede van die polisie se binnelandse watervleuel het Dinsdag kabels gebruik om Nikili se lyk teen die skuins wal op te trek. Daarna is kabels en ’n laaigraaf ingespan om die voertuig uit die dam te haal.

Kabels is ingespan om Nikili se lyk teen die steil wal van die riooldam uit te trek.

Hierna het die polisieduikers, wat ure lank kniediep in die rioolvuil moes werk, gehelp om Nikili se motor uit die dam te haal. Die voertuig is met kabels na die kant van die dam getrek waarna ’n laaigraaf gebruik is om dit teen die wal uit te trek.

’n Groot skare mense wat sedert Maandag die operasie dopgehou het, het kort nadat die Volvo op sy wiele gekeer is, huiswaarts begin keer.

Kapt. Stephen Thakeng, polisiewoordvoerder, sê ’n geregtelike doodsondersoek sal gedoen word. Geen misdaad word vermoed nie.

Die polisie meen Nikili het hom Vrydagaand misreken toe hy naby die dam omgedraai het en teen die skuins wal afgery.

Meer oor:  Lyke  |  Lyk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.