Drie mense het Maandagoggend vroeg gesterf in ’n ongeluk naby Mall of the North in Polokwane in Limpopo toe albei voertuie aan die brand geslaan het.
’n Mercedes Benz-minibus en ’n Nissan-bakkie het omstreeks 07:00 naby die Landdros Maré-afrit op die N1 gebots.

Drie mense is dood en nog drie beseer toe twee voertuie Maandag buite Polokwane gebots het. Foto: Verskaf
Volgens Mike Maringa, woordvoerder van die departement van vervoer in Limpopo, het twee insittendes van die minibus en een in die bakkie onherkenbaar verbrand.
Nóg drie passasiers van die twee voertuie het ernstige beserings opgedoen en is in ambulanse na hospitale in die gebied geneem.
Die oorsaak van die ongeluk is nog onbekend.

Die wrak van 'n bakkie wat Maandagoggend buite Polokwane in 'n ongeluk betrokke was. Foto: Provinsiale verkeersdepartement

'n Lid van die brandweer by die uitgebrande wrak van 'n motor buite Polokwane. Foto: Provinsiale verkeersdepartement

Die uitgebrande wrak van 'n minibus wat Maandagoggend buite Polokwane in 'n botsing was. Foto: Provinsiale verkeersdepartement
In nog ’n ongeluk het vier mense Sondagmiddag buite Lephalale gesterf toe ’n Toyota en ’n Ford-bakkie op die R518 naby Visgat in ’n trompop-botsing was.
Maringa sê dit blyk dat die ongeluk gebeur het toe die Toyota ’n motor verbygesteek en reg van voor in die aankomende bakkie vasgery het.
Al vier insittendes van die Toyota is op die toneel dood. Die bestuurder en ’n passasier van die bakkie is na ’n hospitaal in Lephalale gehaas.
Mavhungu Lerule-Ramakhanya, LUR van vervoer in Limpopo, het in ’n verklaring haar kommer uitgespreek oor toenemende ongelukke in die provinsie wat deur roekelose en nalatige bestuur veroorsaak word.