Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
3 dae en 3 nagte vir ANC se koek
Gladys Danster, Vanessa Rall en Annette Wall se familielede het gehelp om te verseker dat die ANC se koek vir sy 108ste verjaardag die mooiste en lekkerste is. Foto: Charné Kemp

Dit was nie sommer net van koek bak en hande klap toe die ANC twee dae ná Kersfees vir Annette Wall vra om die koek vir die ANC se 108ste vieringe op 11 Januarie in Kimberley te bak nie.

Wall, eienaar van Happy Stems Florist & Bakery, sê sy het die “opwindende” uitdaging aangegryp, al moes haar gesin hul vakansie met drie dae kortknip.

“Daar is min baksters wat kan spog dat hulle ’n koek van 3 m by 1,5 m gebak en versier het wat in een stuk by die Tafel Lager Park, waar die ANC-saamtrek was, uitgekom het.

“Dit was wonderlik om op sosiale media te sien hoe Cyril Ramaphosa, ANC-president, die koek op die verhoog sny. Die koek het nie R127 000 gekos soos wat sekere mense op sosiale media beweer nie. Die foto wat daarby gebruik is, kom van die 106de verjaardagpartytjie, nie vanjaar se geleentheid nie.

“Ek het minder as R40 000 vir die koek gevra. Solank my personeel se oortydwerk, die bestanddele en ’n bietjie wins ingewerk is, is ek tevrede. Dit beteken geweldig baie om op my getuigskrif te spog dat ek dié koek geskep het.”

Die koek is gereed om die winkel te verlaat. Foto: Verskaf

Wall het al voorheen vir ’n klant wat by die ANC betrokke is, koeke gebak.

“Op vorige geleenthede was Gwede Mantashe en Ace Magashule, destydse en huidige ANC-sekretaris-generaal, op hul verjaardag in Kimberley. My klant het toe gevra dat ek spesiale koeke vir hulle bak. Vir Mantashe het ek ’n aktetas en vir Magashule ’n sjokoladekoek waaroor gekleurde sjokolade in ANC-kleure gedrup het, gebak.

“My koeke is kreatief en besonders. My reënboogkoek was drie lae koek in die ANC-kleure. Die lemoenkoek was geel, die ferweelkoek was groen, en die donkersjokolade-koek was swart. Ek het die koek met fondant oorgetrek om te keer dat dit in die Noord-Kaapse hitte smelt.

“Nadat ek op 5 Januarie die groen lig gekry het, het ek dadelik drie koeke gebak wat 12 ANC-amptenare in my winkel kom proe het. Vir hulle was die koek smaaklik en vogtig.”

Sy sê dat die president se personeel, gesondheidsinspekteurs en veiligheidsbeamptes haar daarna daagliks besoek het om te verseker alles is in orde met die voorbereiding. Hulle het gereeld monsters van die koek en versiering geneem om die veiligheid te toets. Sy en haar personeel moes ook hul identiteitsdokumente aan die beamptes toon.

Veterane van Umkhonto we Sizwe het die koek deur ’n oop vensterraam getel en in die koeltrok geplaas. Foto: Verskaf
Die winkel se ruit is uitgehaal sodat die koek daardeur na die koeltrok gedra kon word. Die ruit is agterna weer teruggesit. Foto: Verskaf

Vir drie dae en drie nagte het hulle aan die koek gebak en versier, en die Saterdag net voor 01:00 die laaste werk gedoen toe die woord anniversary op die koek geplak is. Die koek het uit 47 koeke, wat altesaam 320 kg geweeg het, bestaan. Dit het soos ’n legkaart inmekaar gepas. Haar man het ’n hout-“skinkbord” van 40 kg, wat met ’n raam versterk is, gemaak, swart geverf en vir higiëne behandel.

“Dit is toe dat ek besef die koek moet in een stuk op die verhoog uitkom. Dit kon nie by die stadion aanmekaargesit word nie, en kon nie by ’n gewone deur uitgedra word nie.

“Ek het onthou dat my winkel se een ruit ’n paar maande gelede ná ’n inbraak vervang is. Ek het PG Glass gevra of hulle my winkel se ruit daardie Saterdag sou uithaal sodat veterane van Umkhonto we Sizwe die koek op die skinkbord deur die vensterraam na die koeltrok kon dra. Die ruit is dadelik teruggesit. Die polisie se bomeenheid het toe die vragmotor ondersoek om te verseker dit is veilig voordat die koek na die stadion gebring is.”

En toe die koek en almal by die winkel weg is, kon Wall en haar span ontspan en vir hulself hande klap.

Die houtmes is spesiaal laat maak sodat die ANC se topses dit almal saam kon vashou. Die koek is met fondant oorgetrek sodat dit nie in die Noord-Kaapse hitte smelt nie. Foto: Verskaf
Cyril Ramaphosa, ANC-president, omring deur die topses en ander ANC-hooggeplaastes, het die koek op 11 Januarie op die ANC se 108ste verjaardagpartytjie gesny. Foto: Charné Kemp

Meer oor:  Kimberley  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.