Drie geboue is Saterdagaand in ’n verwoestende brand in Killarney Gardens in puin gelê.
Jermaine Carelse, woordvoerder van Kaapstad se brandweer-en-reddingsdiens, sê hulle is omstreeks tienuur ingelig oor ’n brand op die perseel van ’n verpakkingsvervaardiger en -verskaffer, Starflex Plastics wat in Laudaweg geleë is.
Carelse sê volgens die Milnerton-brandweerspan wat eerste op die toneel aangekom het, was die brand besig om na aangrensende geboue te versprei en het hulle ekstra hulpbronne aangevra.
“Altesaam 13 brandbestrydingstoestelle en 52 personeellede is uitgestuur om die brand onder beheer te bring. Die brandweerspanne het vir ure gespook om die brand te bekamp en het net ná 04:00 daarin geslaag om die vlamme te blus.”
Carelse sê brandweerpersoneel hou nog steeds die gebied dop om enige opvlammings te verhoed.
“Geen beserings is aangemeld nie en die oorsaak van die brand is steeds onbekend,” sê hy.

Brandweerpersoneel bestry ’n brand by ’n fabriek in Kiillarney Gardens.

Drie geboue is in puin gelê.

Brandweerpersoneel spook om die vlamme onder beheer te bring.

Brandweerdienste op die toneel van die brand.