Drie kinders en die bestuurder van ’n minibustaxi is ernstig beseer nadat hulle en nog 13 ander kinders in ’n ongeluk naby Mahikeng was.
Thabo Semantle, woordvoerder vir Noordwes se departement van gemeenskapsveiligheid, sê die botsing tussen twee taxi’s en ’n motor het omstreeks 07:00 op die N18-hoofweg naby Mahikeng gebeur. Een van die taxibestuurders is ernstig beseer.
Kol. Adéle Myburgh, polisiewoordvoerder, het vroeg Woensdagmiddag gesê al 16 kinders wat in die een taxi was, is na ’n nabygeleë hospitaal geneem.

Die toneel Woensdagoggend waarin onder meer ’n minibustaxi, wat 16 kinders vervoer het, in ’n ongeluk was. Foto: Verskaf
“Die kinders word almal nog behandel. Tot dusver is een kind, ’n sesjarige seuntjie, in die hospitaal opgeneem.”
Die polisie ondersoek ’n saak van roekelose of nalatige bestuur.
Sello Lehari, LUR vir gemeenskapsveiligheid in Noordwes, het die beseerdes ’n spoedige herstel toegewens. Hy het ’n beroep gedoen op motoriste om geduldig te wees en nie net by die spoedperk te hou nie, maar ook die toestand van paaie in ag te neem.