Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
4 mense verbrand onherkenbaar in ongeluk

Ses mense, insluitende ’n kind wat saam met drie ander mense onherkenbaar verbrand het, is die naweek in twee afsonderlike ongelukke in die Oos-Vrystaat dood.

Een van die motors is aan die brand langs die pad buite Vrede ná ’n botsing met ’n ander motor. Vier mense is in die ongeluk dood. Foto: Vrystaatse departement van gesondheid/Facebook

In ’n gru-ongeluk Saterdagmiddag is vier mense dood toe twee motors op die R34 sowat 20 km buite Vrede in die Vrystaat gebots en aan die brand geslaan het.

In een van die motors was drie insittendes, insluitende ’n jong kind, en in die ander motor slegs een persoon. Al vier mense het onherkenbaar verbrand en kon nog nie geïdentifiseer word nie, sê sers. Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder.

Volgens hom het ’n vragmotorbestuurder, wat voor een van die motors gery het, na bewering die motoris gewaarsku dat dit te gevaarlik is om sy vragmotor verby te steek, maar dié man het nie daarop ag geslaan nie.

Paramedici en ander omstanders op die ongelukstoneel buite Vrede in die Vrystaat waar vier mense omgekom het nadat hul motors aan die brand geslaan het. Foto: Vrystaatse departement van gesondheid/Facebook

Dié vragmotor het omstreeks 14:00 vanaf Memel in die rigting van Warden gery toe die ongeluk gebeur het.

“Daar word beweer die vragmotorbestuurder het sy noodligte aangesit in ’n poging om die motorbestuurder agter hom te waarsku dat dit te gevaarlik is om verby te steek, maar die persoon het dit verontagsaam en het steeds die vragmotor verbygesteek.

“Die vragmotorbestuurder het gesien ’n ongeluk gaan gebeur en het na die kant beweeg om dit te probeer voorkom. Sy voertuig het egter omgeslaan. Die twee motors het ook gebots en in vlamme opgegaan,” sê Mophiring.

Die vragmotor lê op sy rug nadat hy uitgeswaai het in ’n poging om ’n botsing tussen twee motors op die pad tussen Vrede en Memel in die Vrystaat te voorkom. Foto: Vrystaatse departement van gesondheid/Facebook

Die vragmotor het in die veld op sy dak te lande gekom en die bestuurder is met geringe beserings na die Phumelela-hospitaal in Vrede gebring.

Volgens Mophiring is dit nog onduidelik vanwaar die oorledenes is en waarheen hulle onderweg was.

In ’n ander ongeluk Sondag in die vroeë oggendure het twee mans, wat in ’n BMW gery het, hul lewe verloor toe hul motor op die R712 omgeslaan het.

Mophiring sê die motor was van Harrismith na Phuthaditjhaba op pad toe die ongeluk gebeur het.

Noodwerkers blus die vlamme van ’n motor wat aan die brand geslaan het na ’n botsing met ’n ander motor Saterdagmiddag tussen Vrede en Memel. Foto: Vrystaatse Departement van gesondheid/Facebook

Verbygaande motoriste het lede van die Harrismith snelwegpatrollie van die ongeluk verwittig.

Albei die mans, wie se identiteit nog onbekend is, is op die toneel dood.

Sake van strafbare manslag word ondersoek en Mophiring sê mense wat wil navrae doen oor die ongelukke en of vermoed hul geliefdes is betrokke, kan die Vrede- (058 913 8501) en Harrismith-polisiekantoor (058 624 1000) vir meer inligting bel.

Meer oor:  Vrystaat  |  Vrede  |  Motorongeluk  |  Padsterftes  |  Dood
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.