Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
3 September – ’n datum wat ons nooit sal vergeet nie

3 September sal altyd in Macassar, Kaapstad, herdenk word as die dag waarop agt “vriende, pa’s en jong mans” by Rheinmetall Denel Munitions (RDM) se aanleg in ’n ontploffing dood is.

Victor Isaacs, stadsraadslid vir onder meer Macassar, het Donderdag by ’n gedenkdiens vir die gestorwe RDM-werknemers gesê “dit is die nuwe datum wat ons nou in ons gedagtes hou, ’n datum wat ons nooit sal vergeet nie”.

Jacob Jaftha, ’n werknemer van RDM, lewer ’n huldeblyk aan Nico Samuels, sy kollega wat in die ontploffing op 3 September in Kaapstad dood is. Norbert Schulze, uitvoerende hoof van RDM, staan langs Jaftha. Foto: Jaco Marais

Meer as 2 000 mense het die diens Donderdagmiddag bygewoon wat in ’n reuse-tent op RDM se perseel tussen Macassar en Somerset-Wes gehou is.

Familielede van die slagoffers het voor gesit en die meeste van hulle het T-hemde gedra met foto’s of die name van die slagoffers.

“Hulle het eintlik in die spervuur gesterf vir hul families, want hulle is broodwinners en bring geld in. Hulle het gekies om te werk, terwyl daar soveel ander is wat kies om nie te werk nie.”

Isaacs sê dié voorval het die hele gemeenskap nader aan mekaar gebring.

Chris Nissen van die Menseregtekommissie het gesê die mense is daar om die agt geliefdes te vier, met die wete “dat hulle nou lekker dans in die hemel en in die arms van Jesus is.

Van die meer as 2 000 mense wat Donderdagmiddag ’n gedenkdiens by RDM in Macassar, Kaapstad, bygewoon het vir die agt werknemers wat op 3 September in ’n ontploffing dood is. Foto: Jaco Marais

“Ons is hier om by die families te staan en hulle te ondersteun. Om te sê die Here is nog met julle.”

Kollegas, familielede en gemeenskapslede het in huldeblyke vertel hoe die agt mans kranige sportmense en -ondersteuners was, gelowige mense wat na die jeug uitgereik het en ander was liefhebbers van musiek, sommiges was selfs platejoggies.

Jacob Jaftha, ’n werknemer wat die huldeblyk vir Nico Samuels gelewer het, het namens die families die gemeenskap en RDM bedank, sowel as die polisie en nooddienste wat bystand gelewer het.

Werknemers van RDM het hemde gedra ter ere van hul agt kollegas wat op 3 September in ’n ontploffing dood is. Foto: Jaco Marais
Koorlede sing Donderdagmiddag by ’n gedenkdiens wat vir die agt werknemers van RDM gehou is.Foto: Jaco Marais

Hy het Norbert Schulze, uitvoerende hoof van RDM, ook bedank “vir die rol wat hulle in ons lewe speel.

“Van die oomblik wat dit gebeur het tot nou glo ons dat hulle altyd daar sal wees.”

Daarby het hy om verskoning gevra vir die aanmerkings wat sommige gemeenskapslede tot Schulze gerig het aan die hand van die voorval. Hy het luide applous daarvoor ontvang.

Familielede van die agt werknemers van RDM wat in die ontploffing dood is, ondersteun mekaar by die gedenkdiens.Foto: Jaco Marais

“Niemand verdien om so behandel te word nie. Dit is onaanvaarbaar. Namens die werkers wil ek sê hierdie plek is nie ’n monster nie. As hierdie plek ’n monster was, sou ek nie volgende maand al 40 jaar hier werk nie.

“Dit wat hier gebeur het, is ’n ongeluk en dit kon op enige plek gebeur het. Laat ons vrede maak en vorentoe beweeg.”

Schulze sê Suid-Afrikaners se “unieke benadering” van uitreik na mense en om hulp aan te bied, het hom altyd tuis laat voel “en sal ons lei deur dié moeilike tyd”.

Christian Sauls lewer ’n huldeblyk vir Triston Sauls tydens die gedenkdiens. Foto: Jaco Marais

Helen Zille, premier van Wes-Kaap, het gesê daar is tans “baie meer vrae as wat daar antwoorde is. Ons vertrou dat die genesing van die pyn gaan kom en ons vertrou op die Here.”

Sy het gesê die families word ondersteun “deur een Wes-Kaapse familie”.

Monhla Hlahla, voorsitter van Denel se raad, praat Donderdag by die gedenkdiens wat RDM gehou het vir die agt werknemers wat in ’n ontploffing dood is. Foto: Jaco Marais
  • Nico Angelo Samuels, Stevon Robert Isaacs, Mxolisi Sigadla, Bradley Tandy, Jamie Lesley Haydricks, Jason Hartzenberg, Triston Lance Davids en Thandolwethu Mankayi is op 3 September dood in ’n ontploffing by een van RDM se aanlegte waar die dryfmiddel vir onder meer kanonkoeëls vervaardig is. Volgens RDM het daar byna niks van die gebou en amper geen bewysstukke oorgebly nie.

Meer oor:  Norbert Schulze  |  Kaapstad  |  Macassar  |  Gedenkdiens  |  Plofstofaanleg  |  Ontploffing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.