Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
3 seuns verdrink naby Lutzville

Twee families van Lutzville is gebroke nadat hul seuns Vrydag in die Olifantsrivier verdrink het.

Pieter van der Westruizen (6) het glo in die moeilikheid beland terwyl hy geswem het en sy ouboet, Conray (10), het hom probeer help. Conray se vriend, Jason Syster (11), is agterna en in die proses het al drie seuns verdrink.

Hul families woon en werk op plase in die omgewing.

Conray van der Westruizen toe hy jonger was. Foto: Verskaf

“Ons is gebroke,” sê Lee-Ann van der Westruizen, Pieter en Conray se ma.

“Ek het gelê en slaap toe ’n ouer kind, wat ook by die rivier was, vir ons die boodskap kom gee dat my twee seuns verdrink het.”

Jason se kleinboet, Cheslyn (8), was ook by die rivier en het gesien wat gebeur het, sê sy ma, Moura.

“Hy was daar, maar hy was nie in die water nie. Dit gaan oukei met hom, maar as hy daaraan dink, bars hy in trane uit.

“Ons is in stukke,” sê Moura. “Veral sy pa, Pieter Ovis. Jason was ons oudste en sy oogappel. Hulle twee het baie graag dinge saam gedoen en saam uitgegaan. Jason was maar ’n stil seun, maar baie hardwerkend en almal het van hom gehou.”

Jason Syster (11) Foto: Verskaf

Lee-Ann sê dieselfde van Conray. “Hy was hardwerkend, maar hy was lief daarvoor om ons hier by die huis te terg. Ons gaan hom vreeslik mis.”

Oor haar jongste sê sy: “Pieter was my baba. Hy was baie vriendelik en hy en sy boetie was baie lief vir mekaar en het alles saam gedoen.”

Conray en Jason was albei leerlinge van die Uitkyk Primêre Skool in Lutzville.

“Hul heengaan laat ’n groot leemte by die skool,” sê Hendrik Smith, die hoof. “Ons gaan dié week ’n gedenkdiens vir hul albei hou, en ook vir Conray se jonger boetie.”

Moura sê sy en Pieter beplan om Jason eerskomende naweek te begrawe. Conray en Pieter se gesamentlike gedenkdiens sal na verwagting vandeesweek plaasvind. Hulle word dan in ’n plaaslike begraafplaas ter ruste gelê.

Billy Claasen, hoof van die Landelike en Plaaswerkers-ontwikkelingsorganisasie, het sy medelye aan die kinders se gesinne oorgedra en hulle Saterdag by hul huise besoek.

“Ons betreur die dood van drie jong kinders uit die landbougemeenskap naby Lutzville. Ons innige meegevoel gaan aan die gesinne en boeregemeenskap. Ons bid vir julle,” sê hy in ’n verklaring.

Claasen sê hy beplan om Maandag weer die families te besoek.

Kapt. Frederick van Wyk, polisiewoordvoerder, het bevestig die seuns se lyke is deur polisieduikers uit die rivier verwyder. “Geen vuilspel word vermoed nie.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.