Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
3 sterf in huis in Pta-Oos onder raaiselagtige omstandighede
Mario Pretorius (23) Foto: Facebook
Theo Kleynhans (60) Foto: Facebook

Die besturende direkteur van ’n eiendomsagentskap in die ooste van Pretoria en twee eiendomsagente is Saterdagoggend in raaiselagtige omstandighede dood in ’n dubbelverdiepinghuis in Menlo Park gekry.

'n Vrou wat ook in die huis was, veg om haar lewe in 'n hospitaal in Pretoria.

Kol. Nxolo Kweza, polisiewoordvoerder in Gauteng, sê die Brooklyn-polisie in Pretoria sal lykskouings laat doen om te bepaal waaraan die drie mense dood is.

’n Werknemer van Theo Kleynhans (60), besturende direkteur van 'n eiendomsagentskap in Faerie Glen, het Saterdagoggend op die toneel in die huis afgekom.

Die man, wat anoniem wil bly, het Saterdagoggend eers twee vroue op die stoep gesien. Hy het aanvanklik gedink hulle slaap.

Hy het by die huis ingegaan en toe op Kleynhans se lyk afgekom waar dit aan die voet van die trap gelê het wat na die boonste verdieping lei. Naby hom, in die gang, was die lyk van Mario Pretorius (23), portefeuljebestuurder van die eiendomsagentskap.

Op die stoep is Chariska Kloppers (30) se lyk in 'n stoel gekry.

'n Vrou van 32 jaar is bewusteloos op die vloer van die stoep gekry. Die vrou se naam word op regsadvies weerhou.

Die werknemer het die polisie en nooddienste ontbied en die 32-jarige vrou is per ambulans na 'n hospitaal geneem. Sy was Sondag in 'n bedenklike toestand. Dit is nie duidelik of sy ook by die eiendomsagentskap gewerk het en of sy slegs 'n gas van Kleynhans was nie.

Colin Forbes, Pretorius se stiefpa, het Mike Bolhuis, private ondersoeker van Pretoria, betrek om 'n ondersoek namens die familie te doen. Forbes en Pretorius se ma, Martie, vermoed dat hy en sy kollegas moontlik vergiftig is.

Bolhuis het Saterdag 'n span van sy ondersoekers na die huis in Menlo Park gestuur.

Pretorius is 'n oudleerling van die Hoër Tegniese Skool Pretoria-Tuine.

“Sy baas se suster het ons Saterdagoggend gebel en gesê daar is groot fout by die huis, ons moet kom,” sê Forbes.

Hy sê hulle “weet glad nie” wat tot Pretorius se dood kon lei nie.

Netwerk24 verneem dat Kleynhans en 'n groep van die eiendomsagente Vrydagmiddag ná werk na 'n kuierplek in die ooste van Pretoria is om drankies te drink en iets te eet.

Die huis in Menlo Park waar drie mense Saterdagoggend dood gevind is. Foto: Brümilda Swartbooi

Kleynhans, Pretorius, Kloppers en die 32-jarige vrou is later die aand na sy huis in Menlo Park, waar hulle glo verder gekuier het.

Kloppers was 'n enkelma van drie jong kinders. Haar familie kon nie Sondag opgespoor word nie.

Werner Koekemoer, oudpolisielid en ondersoeker van Bolhuis, sê daar is op verskeie skedule 5- en -6-voorskrifmedikasie, sowel as 'n groot hoeveelheid drank in die huis afgekom. Daar is ook vermoedelik op dwelms afgekom.

Bolhuis sê hulle werk saam met die polisie om vas te stel of daar Vrydagaand nog mense in die huis was.

“Dit is belangrik dat ons so gou as moontlik uitvind wat die dood van die mense veroorsaak het.”

Kweza kon nie sê of die polisie op dwelms in die huis afgekom het nie, “want dit sal die polisie se ondersoek beïnvloed”.

Michael Pretorius, oom van Mario, het Sondagmiddag aan Netwerk24 gesê die familie soek antwoorde oor wat gebeur het.

“Ons is almal geskok tot in ons diepste wese.”

Dit was Sondagmiddag stil by die huis in Menlo Park.

* Die berig is intussen gewysig.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.