Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
3 vermiste kleuters het glo beeste verjaag

Beeste was glo die rede waarom drie kleuters van Motherwell in Port Elizabeth vermis geraak het.

Die drie seuns, Linamandla Zenzile (3), Othandwayo Zenzile (4) en Nande Nombewu (3), het Dinsdag verdwyn. Ná ’n uitgebreide soektog van 21 uur is al drie lewendig gevind.

Hulle is Dinsdag omstreeks 12:15 laas gesien terwyl hulle in ’n oop stuk veld in die NU-29-woonbuurt gespeel het.

Die drie vermiste seun was Donderdagoggend veilig en herenig met hul ma’s. Links is Nolunthu Nquru met haar seun Nande, Nomakhaya Zenzile met haar seun Linamandla (middel) en Siphokazi Zenzile met haar seun Othandwayo. Foto: Cara-Lee Dorfling

“Die kinders sê daar het beeste op die veld aangekom en hulle het die beeste begin wegjaag. Hulle het agter die beeste aangehardloop om hulle te verjaag toe verdwaal hulle,” het Siphokazi Zenzile, ma van Othandwayo, Donderdagoggend vanuit die Provinsiale Hospitaal in Uitenhage gesê.

Die eerste seun, Linamandla Zenzile, is Woensdag omstreeks 14:00 gevind deur werkers van ’n steengroef. Hy, en die ander twee wat eers Woensdagaand gevind is, is dadelik in dié hospitaal opgeneem vir ’n mediese ondersoek.

“Hulle is oukei. Hulle was net baie vuil en swak,” sê Nomakhaya Zenzile, Linamandla se ma.

Donderdagoggend was Linamandla die op en wakkerste van die drie seuns in die hospitaalsaal. Terwyl Othandwayo Zenzile aan sy ma se skoot vasgeklou het en Nande Nombewu op die hospitaalbed gerus het, het Linamandla teen die beddens opgeklouter en uitgelate vir sy ma se grappies gelag.

“Ek is baie dankbaar om te sien my kind is weer homself, ek het gisteraand (Woensdag) geskrik toe ek sien hoe swak en uitgeput hy is,” sê Nomakhaya.

Volgens Siphokazi het ’n vriend van haar die drie seuns Dinsdag omstreeks 15:00 in die veld gaan soek en besef hulle is weg.

Veilig terug in die arms van hul ma’s. Nolunthu Nquru met Nande, Nomakhaya Zenzile met Linamandla en Siphokazi Zenzile met Othandwayo in die Provinsiale Hospitaal in Uitenhage. Foto: Cara-Lee Dorfling

’n Soektog deur familie, vriende en gemeenskapslede was onsuksesvol. Teen 22:00 is die kinders as vermis by die polisie aangemeld.

Daar is met ’n volskaalse soektog begin met verskeie polisie-eenhede wat onverpoosd na die kinders gesoek het.

Die kinders het die aand in die bosse geslaap.

Woensdag omstreeks 14:00 is Linamandla by ’n weegbrug deur werkers van die Amanzi-steengroef op die pad tussen Uitenhage en Motherwell opgemerk.

Die polisiesoektog het hierna onmiddellik na die steengroef en omstreke verskuif.

“Kort ná 19:06 het lt.kol. Jesvin Arends en ao. Francois Marais die huilstem van ’n kind agter ’n sandduin gehoor.

Lt.kol. Jesvin Arends sit by Othandwayo Zenzile en Nande Nombewu toe hy hulle Woensdag net ná 19:00 opgespoor het. Foto: Verskaf

Othandwayo en Nande is op klippe gevind, bykans 7 km van hul huis af, sê kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder.

Siphokazi, Nomakhaya en Nolunthu Nquru, ma van Nande, sê hulle het nie ’n oog toegemaak die aand wat hul kinders vermis was nie.

“Ek was bang die ergste het gebeur, iemand het hulle gesteel, of hulle het in een van die damme in die gebied verdrink. Nooit weer wil ek só situasie beleef nie,” sê Siphokazi.

Die ma’s was dit eens hul kinders sal nie weer sonder streng toesig buite mag speel nie.

Hulle het die gemeenskap en polisie vir hul hulp bedank.

“Die polisie en gemeenskap het ons baie ondersteun. Vir elkeen is ek dankbaar,” sê Siphokazi.

Genl.maj. Dawie Rabie, bevelvoerder van die Motherwell-polisiegebied, het ook die polisielede vir hul toegewyde werk bedank. Hulle het langer as hul normale werkure gewerk om te help soek.

“Dit was oorweldigend om te sien hoe gemeenskappe van oor die (Nelson Mandelabaai-)metro heen hulp aanbied, in enige vorm, om te help die kinders vind. Mense het hulle direk ná werk by die soekgeselskap aangesluit.

“Ons is dankbaar die kinders is veilig en met hul ouers herenig,” sê Rabie.

Rabie het ouers gewaarsku dat jong kinders nooit alleen of sonder toesig gelos moet word nie. “Ons moedig ouers aan om ekstra versigtig te wees en te alle tye bewus te wees waar hul kinders is.”

Die seuns sal na verwagting Donderdagaand ontslaan word.

Meer oor:  Motherwell  |  Port Elizabeth  |  Soektog
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.