Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
4 j. later vind vrou haar Flekkie-kat

Dit het vier jaar geneem, maar ’n kat-eienaar het oplaas die regte vlekkie aan haar verlore kat se neus gesien en geweet dít is haar vermiste Flekkie-kat.

Hoewel Teresa Olivier van Port Elizabeth dadelik haar vermiste kat aan die wit strepie aan sy snoet herken het, was die kat se reaksie op haar stem genoeg om trane van blydskap te verseker.

“Ek het al twee keer vantevore na katte gaan kyk wat dalk my vermiste Flekkie kon wees. Die keer was dit hy, met die regte kolletjie op die neus en wit aan sy pote.

“Hy is nog bangerig, maar hy is uiteindelik veilig terug,” het Olivier hoorbaar opgewonde gesê.

Teresa Olivier gee haar kat, Flekkie, ’n drukkie nadat hy meer as vier jaar vermis was. Foto: Verskaf

Maar selfs nog blyer oor Flekkie is Maureen Jordaan, wat haarself vir sy verdwyning blameer het.

Jordaan, wat met sy verdwyning net om die draai van Olivier in Newtonpark gewoon het, het aangebied om Flekkie vir sterilisasie te neem nadat hy gereeld by haar kat begin kuier het.

“Ek het hom self veearts toe gevat, en die aand toe ek hom gaan haal, breek hy uit die mandjie toe ek hom in die motor laai en hy verdwyn soos ’n groot speld. Ek het soos ’n hond gevoel, want ek het iemand anders se kat verloor, en dit was dus my verantwoordelikheid om hom weer te vind.”

Hoewel die veearts slegs sowat 10 km van Jordaan se huis is, het sy geweet die kans is skraal dat Flekkie sy weg huis toe sal vind oor die besige strate. Flekkie se foto is wyd en syd op sosiale media gedeel, terwyl Jordaan ook by Erica Wieffering van Cat Rescue-PE en Karen Theron van die Nine Lives Cat-stigting aangeklop het vir raad oor lokvalle en om moontlike leidrade op te volg.

Vier en ’n half jaar lank het Jordaan volhard in haar soektog.

Dié foto is vir meer as vier jaar op sosiale media versprei terwyl daar na Flekkie gesoek is. Foto: Verskaf
Flekkie is weer tuis by sy huis saam met sy mense-ma, Teresa Olivier. Foto: Verskaf

“Elke keer as ek verby die straat gery het waar hy weggeraak het, het ek hardop gevra ‘Flekkie, waar is jy?’ Ek het nooit van hom vergeet nie.”

Oplaas het ’n deurbraak verlede Donderdag gekom nadat ’n vrou van Broadwood, sowat 3 km van die veearts, ’n foto van ’n kat op Facebook gedeel en gesê het die kat het homself by haar tuisgemaak. Sy wou weet of hy dalk ’n eienaar het.

Jordaan en Olivier het kort hierna die kat besoek en met groot verligting besef die soektog is verby.

Olivier sê sy het nooit moed opgegee nie en is dankbaar teenoor almal wat hom gevoer het terwyl hy op straat was.

“Ek het altyd gebid hy sal gevind word. Flekkie is baie rustiger as voorheen. Hy is vir nou onder huisarres totdat hy aan die gebied en aan Bain (haar ander kat) gewoond raak.”

Jordaan het op haar beurt eienaars van vermiste katte aangemoedig om nooit hoop te verloor nie.

“Sterkte aan almal wat soek na hul kat-kinders. Mense moet asseblief adverteer as daar skielik ’n vreemde kat by hulle opdaag, want sy eienaar soek dalk naarstiglik na hom. Dis aaklig om nie te weet waar hulle is nie.

“Welkom tuis Flekkie. My hart klop halleluja!”

Meer oor:  Port-Elizabeth  |  Kat
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.