Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
4-jarige sterf in vervalle speelpark

’n Losstaande klimraam het die afgelope naweek blykbaar die dood van ’n vierjarige seun in die Oos-Kaap veroorsaak.

Lisekhona Bouwer

Die klimraam het omgeval terwyl ’n groep kinders daarop gespeel het en die klein Lisekhona Bouwer se kop getref, het Nomakaya Bouwer, sy tannie, Maandag gesê.

Hy is Saterdag op die toneel in die KwaNomzamo-nedersetting in Riebeek-Oos, sowat 40 km buite Grahamstad, dood.

Volgens Bouwer het Lisekhona saam met sy twee broers en drie nefies by die openbare speelpark gespeel, wat na bewering al etlike jare ’n gevaar vir die gemeenskap inhou.

Volgens haar kla inwoners van die gebied al ’n geruime tyd by die munisipaliteit oor die beskadigde en losstaande strukture in die speelpark, sonder dat enige struktuur herstel, verwyder of vervang word.

“Hierdie voorval is vreeslik hartseer. Die familie is in rou. Ons het die toestand van die speelpark al herhaaldelik by die munisipaliteit aangemeld, maar hulle het geen aandag gegee nie en nou het ’n kind sy lewe verloor,” sê Bouwer.

Cary Clark, ’n proporsionele raadslid (PR) vir die DA in die gebied, sê sy het minstens 15 e-posse aan die owerhede gerig met ’n pleidooi vir ingryping by die speelpark, maar dit het net op leë beloftes uitgeloop.

Sy het sedert 2015 die plaaslike Makana-munisipaliteit, Sarah Baartman-distriksmunisipaliteit, munisipale bestuurder en media genader met die hoop dat die speelpark se strukture herstel word.

Volgens haar is die speelpark en strukture deur ’n kontrakteur beskadig wat omstreeks 2015 ’n biblioteek in die gebied gebou het.

“Ek het spesifiek ook die distriksmunisipaliteit gekontak vir hulp hiermee, aangesien die biblioteek hul projek was.

Die vervalle speelpark in Riebeek-Oos waar ’n vierjarige seun dood is.

“My hart breek vandag vir die familie (van die slagoffer), want die munisipaliteit het versuim om op te tree. Eerder as om op ’n voorval te reageer, moet die munisipaliteit optree om dit te voorkom. Iemand moet vir die voorval verantwoordelik gehou word,” sê Clark.

Ted Pillay, munisipale bestuurder, het by navraag sy meegevoel aan Lisekhona se familie uitgespreek, maar sê hy is nie bewus van probleme by ’n speelpark wat in Riebeek-Oos aangemeld is nie.

Pillay sê hy onthou daar was klagtes oor die elektrisiteit by die biblioteek, maar kon nie onmiddellik klagtes oor die speelpark onthou nie. Volgens hom moet strukture by ’n speelpark deur die plaaslike munisipaliteit herstel word, en nie die distriksmunisipaliteit nie.

Anele Mjekula, munisipale woordvoerder, was Maandag nie van die voorval bewus nie. Hy sou later kommentaar lewer.

Kol. Sibongile Soci, provinsiale polisiewoordvoerder, het die kind se dood bevestig en gesê ’n geregtelike doodsondersoek word gedoen.

Meer oor:  Oos-Kaap  |  Grahamstad  |  Fratsongeluk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.