Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
4 op ‘spesiale verlof’ oor vasbind van oumagrootjie
Dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, het Sondag vir Martha Marais (76) van Eersterust en haar familie ingelig oor hoe die ondersoek na die voorval waarin Marais vasgebind is, vorder. Foto: Virginia Keppler

Twee dokters, ’n verpleegster en ’n veiligheidswag is op “spesiale verlof” geplaas nadat hulle as moontlike betrokkenes geïdentifiseer is in die voorval waar ’n 76-jarige oumagrootjie onder stoele vasgebind gevind is.

Dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, het Sondag gesê Martha Marais van Eersterust was volgens ’n voorlopige ondersoek “waarskynlik byna agt uur lank” so in die Mamelodi-daghospitaal vasgebind voordat haar familie haar gevind het.

Hy, sowel as lede van die Menseregtekommissie (MRK), het haar Sondag by haar een dogter se huis besoek nadat Marais Saterdagaand uit die hospitaal ontslaan is.

Sy is, volgens gemeenskapslede, “skielik soos ’n VIP deur die hospitaal behandel” nadat foto’s en beeldmateriaal versprei is van Marais op die vloer van die hospitaal met haar hande agter haar rug vasgemaak.

Sy het Dinsdag by die hospitaal mediese hulp vir naarheid en ’n maagkwaal gaan soek.

Woensdagaand het haar familie haar vasgebind tussen ’n ry stoele aangetref.

Masuku het Sondag gesê ondersoek word ingestel na die betrokkenheid van vier mense by die voorval.

“Ons moet arbeidswetgewing volg, dus word ’n interne proses gevolg, waarna ons ons eie onafhanklike ondersoek sal doen sodat dié wat wel betrokke was, verantwoordelik gehou kan word,” het hy gesê.

Hoewel hy nie te veel oor die aanloop tot die voorval wou uitbrei nie weens dokter-pasiënt-vertroulikheid, het die LUR gesê dit blyk daar was “ ’n situasie waar hospitaalpersoneel vir Marais moes kalmeer”.

Hy het bygevoeg: “Die manier waarop dit gedoen is, was nie reg nie. Pasiënte moet hul menswaardigheid behou.”

Stephnie Marais (links, agter) en Virginia Keppler, familievriendin en -woordvoerder, gesels met dr. Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, oor die ondersoek na die voorval waarin Martha Marais (76) in ’n hospitaal vasgebind is. Foto: Hanti Otto

Masuku het bygevoeg dat veral daardie hospitaal ’n tekort aan personeel en ander hulpbronne het en dat mediese personeel in die algemeen oorwerk is.

“Ja, daar is uitdagings by die Mamelodi-hospitaal en ons sal iets daaraan moet doen. Maar gesondheidswerkers is veronderstel om voorvegters vir pasiënte se regte te wees,” het hy gesê.

Buang Jones, Gautengse bestuurder van die MRK, het gesê ook hulle sal die voorval ondersoek, omdat nie net Marais se menswaardigheid aangetas is nie, maar ook haar grondwetlike reg op vryheid en veiligheid.

“Ons het ook opdrag van die familie gekry om sekere ‘regstellings’ te verseker en ’n skadevergoedingsooreenkoms met die gesondheidsdepartement te beding,” het hy gesê.

Die Marais-familie het ook intussen ’n klag van aanranding by die polisie ingedien.

Stephnie Marais, een dogter, het gesê haar ma is tans nog deurmekaar en baie weerloos en bang.

In die huis, toegewikkel in ’n japon met pienk en wit kolletjies en ’n kombers oor die bene, het Marais self in ’n sagte stem beduie dat haar een been nog ’n bietjie seer is.

“Dis van toe hulle my rondgepluk en getrek het. Hoe meer ek gesê het hulle maak my seer . . . hulle het nie ge-worry nie.”

Sy was bly om weer by die huis te wees.

“Ek het nie gedink ek gaan my familie weer sien nie. Ek sê net die heeltyd ‘dankie Here’,” het sy bygevoeg.

Meer oor:  Martha Marais
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.