
Die toneel in Port Alfred waar ’n boot Saterdagoggend omgeslaan het. Niemand is in die voorval beseer nie. Foto: NSRI
Vier tieners van Port Alfred is die nuwe helde van dié Oos-Kaapse kusdorp nadat hulle Saterdag gesien het hoe ’n 11-jarige seun in ’n seestroom die see ingetrek is, en toe hul eie lewens gewaag het om hom te red.
Die vier tieners, Jessica Harty (15), Kendra Shuman (14), Jadelyn Shuman (15) en Jack Botha (16)) was op Kelly-strand toe hulle omstreeks 15:00 gesien het dit lyk of die 11-jarige seun (sy naam is nie bekend gemaak nie) in groot moeilikheid is in die see.
Al vier het deur die branders geswem en die 11-jarige seun veilig strand toe gebring.
Kerryn van der Walt van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Port Alfred het gesê die NSRI is om 15:15 ontplooi en met hul aankoms op die toneel het hulle gesien die tieners het die seun veilig tot op die strand gebring.
Hy is deur die NSRI-lede behandel en was gelukkig nie in ’n lewensgevaarlike mediese toestand nie. Die seun is deur die Gardmed-ambulansdiens na ’n hospitaal geneem.
In nog ’n voorval Saterdag in Port Alfred het Gerrit Cloete van die NSRI omstreeks 08:00 die oggend gesien hoe ’n boot wat by die mond van die Kowierivier die see ingevaar het, omslaan.
Daar was drie mans en ’n vrou op die boot. Die vier was nie beseer nie en het strand toe geswem.
Met die hulp van die NSRI is die boot met ’n tou vasgemaak sodat dit nie in die see inspoel nie. Die boot is uiteindelik ook veilig op die strand gebring.
#NSRI #PortAlfred crews responded to two serious incident on Saturday.
In one of the incidents, we found that a local...
Posted by NSRI on Sunday, 23 August 2020