
Vier werknemers is na bewering deur ’n bestuurder van J.A. Floral Distributors verneder. Foto: Verskaf
Die vier swart vroue wat by J.A. Floral Distributors in Port Elizabeth werk, wat na bewering deur hul werkgewer verneder is tydens ’n inspeksie, het amptelik ’n klag by die polisie ingedien.
Die vroue beweer hulle is meer as ’n week gelede aan ’n inspeksie onderwerp waartydens hulle hul onderklere vir een van die winkel se vrouebestuurders moes wys.
Dit het na verneem word gevolg nadat die betrokke werkers daarvan beskuldig is dat hulle die toilette met menstruele bloed bemors het.
Volgens die vroue is hulle gevra wie van hulle menstrueer. Hulle moes dit glo bewys deur hul onderklere af te trek.
Kapt. André Beetge, polisiewoordvoerder, het bevestig ’n klag is ingedien en hulle ondersoek ’n klag van crimen injuria.
Ná die voorval het lede van die EFF by twee geleenthede voor die winkel gaan betoog, in solidariteit met die werknemers.
Ná die voorval het lede van die EFF by twee geleenthede voor die winkel gaan betoog, in solidariteit met die werknemers.
Die EFF meen wat met die werkers gebeur het, kom neer op seksuele aanranding.
Vier lede van die EFF is tydens Maandag se optog voor die perseel in hegtenis geneem, en is dieselfde dag op borgtog van R300 elk vrygelaat.
Hulle is aangesê om Dinsdag by die landdroshof aan te meld vir hul hofverskyning.
Siyasanga Gidana, adjunk-streekvoorsitter van die EFF, het Dinsdag by navraag gesê die saak is van die rol geskrap en hulle het uitgestap.
Anelisa Ngcakani, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, het nog nie reageer op navrae oor waarom die saak van die hofrol geskrap is nie.
J.A. Floral Distributors het deur sy prokureur gesê die bestuurder wat by die voorval betrek is, is summier afgedank.
Gidana sê die party eis steeds om met die bestuurder van die maatskappy te vergader, sodat hulle vergoeding en trauma berading vir die betrokke werkers kan bespreek.