Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Algemeen
5 dinge wat jy vandag moet weet
Jackson Mthembu is Donderdag aan Covid-19-verwante komplikasies dood. Foto: Conrad Bornman

Dit was ’n besige dag in Suid-Afrika. Covid-skokke, ongelukke, Curriebekerrugby en rentekoerse het die opskrifte oorheers. Hier is Donderdag se grootste nuusgebeure indien jy dit misgeloop het:

1. Jackson Mthembu sterf aan Covid-19

Jackson Mthembu, minister in die presidensie en wat ’n groot rol gespeel het in die regering se hantering van die koronaviruspandemie, is Donderdag aan die virussiekte dood.

Hy is op 11 Januarie in ’n hospitaal opgeneem en vir Covid-19 getoets, waarna ’n positiewe uitslag verkry is.

Mthembu is in 2019 as minister in die presidensie aangestel. Hy was deel van die sleutelspan van ministers wat sedert April verlede jaar oor die staat van inperking met die media en die publiek gekommunikeer het.

Lees meer hier 

2. 5 dood toe heli van Netcare 911 neerstort

Vyf mense is Donderdagmiddag dood toe ’n noodhelikopter van Netcare 911 in die Bergville-gebied in KwaZulu-Natal neergestort het.

Die vlieënier en vier paramedici is op slag dood.

Netcare 911 het slegs enkele ure voor die noodlottige ongeluk getwiet dat hul gespesialiseerde Netcare 1-noodhelikopter besig is om ’n pasiënt tussen hospitale te vervoer.

Lees meer hier 

3. Voertuig met ma, dogtertjie oor afgrond by Voëlklip

’n Voertuig het Donderdag oor die afgrond by Voëlklip naby Heroldsbaai, buite George, gestort.

Volgens ’n polisiewoordvoerder het die voorval 12:15 gebeur en is ’n Fiat-voertuig met ’n vrou en twee kinders betrokke. ’n Seun (8) het uitgekom voordat die motor oor die afgrond is.

Die polisie was Donderdagmiddag steeds op die toneel.

Lees meer hier

4. Rentekoers bly stabiel – maar styg dalk binnekort

Stygende kos-, petrol- en kragpryse het die Reserwebank Donderdag genoop om die rentekoers onveranderd te laat. Dit beteken die bank se repokoers bly 3,5% en die prima koers van banke 7%.

Lesetja Kganyago, president van die Reserwebank, het egter daarop gewys dat die sentrale bank se kwartaallikse projeksiemodel steeds die moontlikheid uitwys dat die rentekoers in die tweede en derde kwartaal elke keer met 25 basispunte kan styg.

Lees meer hier

5: Spanne gekies vir Saterdag se Curriebeker-halfeindstryde

Met die Curriebeker-seisoen wat binnekort sy piek sal bereik het die vier spanne wat Saterdag sal meeding vir ’n plek in vanjaar se eindstryd hul troepe bekend gemaak.

In die eerste halfeindstryd op Fort Loftus sal die Bulle in ’n Jukskei-derby teen die Leeus kragte meet. Die bulle het verras met ’n jongeling, Stravino Jacobs, op linkervleuel, terwyl die talentvolle Wandisile Simelane weer op buitesenter sal diens doen vir die Leeus.

In die tweede wedstryd, in die Moederstad, sal die Westelike Provinsie die Haaie probeer stuit. Weens Covid-19-protokol sal die rooikopstut Steven Kitshoff nie vir die Westelike Provinsie beskikbaar wees nie, en is hy vervang deur die ewig betroubare Ali Vermaak, wie sy storie sal moet ken teen die Springbok Thomas du Toit, wat vir die Haaie op vaskopstut sal diens doen.


Lees meer oor die spanne: 

https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/bulle-kies-jong-stravino-op-vleuel-20210121

https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/cash-leeus-moet-saterdag-tempo-bepaal-20210121

https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/geen-kitshoff-geen-kans-aikona-20210121

https://www.netwerk24.com/Sport/Rugby/haaie-kies-volsterkte-span-vir-halfeind-20210121

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.